Die Suid-Afrikaanse vrou en haar twee medebeskuldigdes wat in Zambië aangehou word ná die moord op haar man, kan die doodstraf opgelê word as hulle weens moord skuldig bevind word, maar dit sal waarskynlik nie voltrek word nie.
Dit het intussen ook aan die lig gekom dat Nicky Rossouw, eienaar van die Nina Fishing Camp in Berotseland, en een van sy werknemers saam met Estie Pienaar (33) aangekla word.
Estie se man, Marius (50), het op 26 Junie by dié hengelkamp aan die Zambezirivier vermis geraak toe die Pienaar-egpaar daar vakansie gehou het.
Hulle was glo skaars ’n jaar getroud. Iemand na aan Marius het vroeër gesê hy was besig om die hengelkamp by Rossouw te koop.
Sy lyk is op 30 Junie in die rivier in die omgewing van die kamp gevind waarna dit na Lusaka geneem is vir ’n lykskouing.
Hy is vermoedelik met ’n stomp voorwerp teen die kop geslaan.
Die Suid-Afrikaanse hoë kommissariaat in Zambië het gister bevestig Rossouw (’n Namibiër) en ’n Zambiër is saam met Estie in hegtenis geneem en word tans deur die polisie in Sesheke in die suide van die land aangehou.
Die Zambiër, wie se naam nog onbekend is, het glo vir Rossouw gewerk.
Rossouw het gedurende die drie dae wat Marius weg was gereeld foto’s en boodskappe op sy Facebook-blad geplaas om mense op die hoogte te hou van die soektog.
Volgens die hoë kommissariaat en ’n vriend van Rossouw in Zambië word die beskuldigdes van moord aangekla en verskyn hulle op 25 Julie in die landdroshof in Sesheke.
Nelson Kgwete, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, het ontken dat hulle van moord aangekla is.
’n Regskenner in Zambië het aan Beeld gesê die gebruik is dat mense binne 48 uur ná hul inhegtenisneming aangekla word. Vir ernstige misdade soos moord sal die beskuldigdes ook nie borgtog kry nie.
Volgens hom word die doodstraf in Zambië opgelê as iemand aan moord skuldig bevind word. Die president het wel jare laas ingestem dat iemand tereggestel word.
Die laaste keer was in Januarie 1997 toe agt mense op een dag gehang is.
Zambië is op Amnestie Internasionaal se lys van lande wat die doodstraf “in praktyk afgeskaf” het.
Rossouw se vriend het uit Zambië gesê die beskuldigdes “probeer positief bly, maar dit is maar moeilik”.
Volgens Kgwete meng die Suid-Afrikaanse regering nie in as ’n Suid-Afrikaner in ’n ander land van ’n misdaad beskuldig word nie. Die persoon is dan onderhewig aan die regstelsel van daardie betrokke land.


Marius en Estie Pienaar.