Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

‘OJ’ steel tande van dooie komponiste

Deur: Leopold Scholtz 2012-07-03 02:10
Twee oorlede komponiste het onder diefstal deurgeloop – van hul tande.

Die Oostenrykse koerant Krone het onlangs onthul ’n Tsjeg wat glo in Praag woon, het by die graftombes van Johann Strauss II en Johannes Brahms in Wene ingebreek en hul tande gesteel.

Die koerant het op ’n video op die internet afgekom waarin die dief sy eie dade verfilm het.

Die tanddief staan net as OJ bekend.

Hy beweer hy het die tande gesteel om hulle in ’n tandmuseum uit te stal.

Na aanleiding van die koerant se inligting het die Oostenrykse polisie die graftombes verlede week in die middel van die nag oopgemaak en ontdek dat die twee komponiste se skedels (minus hul tande) los van die geraamtes lê.

Die Oostenrykse speurdiens stel nou ondersoek in na die saak. As die saak voor ’n hof kom, kan OJ van die “versteuring van doodsrus” aangekla word.

Die man, wat homself as ’n “museumdirekteur” beskryf, kan vir etlike jare tronk toe gaan.

Volgens die koerant is hy 40?jaar oud en stel sedert sy kinderdae belang in tande. Hy het glo al as 14-jarige dooie mense se tande begin steel.

Hy beskou homself nie as geestesiek nie, maar as ’n wetenskaplike en weldoener.

Die graftombes van Ludwig van Beethoven, Franz Schubert en Arnold Schönberg staan in dieselfde begraafplaas as dié van Strauss en Brahms.

Die polisie wil blykbaar ook kyk of húl tande nog is waar hulle moet wees. 
«Terug