Canberra. - Die Australiese lugredery Qantas het twee vlieëniers geskors wat in die stuurkajuit van hul Boeing 747 op 'n Dallas-lughawe stry gekry het.
Qantas het gesê die kaptein en die mede-vlieënier is geskors hangende 'n ondersoek. Geen besonderhede oor die vlieëniers se gedrag is bekend gemaak nie.
Die
Sydney Morning Herald het gesê die vlieëniers het 'n argument gehad oor watter opstyg-berekeninge in die vliegtuig se rekenaar ingesleutel moes word.
'n Australiese lugvaartbeampte, wat annoniem wou bly omdat hy nie die saak mag bespreek nie, het die berig bevestig.
Volgens die koerant het vlugbestuurders van die argument bewus geword nadat hulle besluit het om die vlug oornag weens weerstoestande te vertraag en omdat die vlieëniers teen daardie tyd al amper hul skoflimiet van 20 uur bereik het.
Die vliegtuig het die volgende dag met twee plaasvervanger-vlieëniers aan die stuur vertrek. - Sapa-AP