Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Suid-Afrikaners spring dood vry

Deur: Erika Gibson 2012-12-18 23:00
Suid-Afrikaanse kontrakteurs wat in Kaboel, Afganistan, werk, het vandeesweek vir die tweede keer in drie maande onder ’n selfmoordbomaanval deurgeloop.

Dié keer was hulle gelukkig en het hulle net met skrape en kneusplekke daarvan afgekom – anders as in September toe agt van hul makkers dood is.

Eergister se aanval, net soos September s’n, was op ’n Amerikaanse maatskappy se werkers gemik. Die Taliban het reeds verantwoordelikheid daarvoor aanvaar.

Volgens van die Suid-Afrikaners, wat weens die aard van hul werk anoniem wil bly, is van hulle ’n paar meter ver geslinger toe die bom ontplof het.

Die bom was in ’n 3 t-watervragmotor wat langs die kontrakteur Contrack International se kantore stilgehou het. Die bestuurder van die vragmotor is die enigste een wat in die ontploffing omgekom het.

Van die Suid-Afrikaners was toevallig net uit hul kantore, wat deur die geweld van die ontploffing aan flarde geruk is.

Volgens die Suid-Afrikaners het die ontploffing omstreeks 10:40, juis toe almal reeds by die werk was, gebeur.

Meer as 25 Suid-Afrikaners werk vir Contrack, wat kontrakte met die Amerikaanse weermag in Afganistan het.

“Die voorste aansig van ons kantore is heeltemal weggeblaas en die pakhuise het ook groot skade,” het hulle vertel.

“Al die Suid-Afrikaners was gister met skrape en al terug by die werk, terwyl die ander buitelandse werkers ‘herstel’ het!”


Groot skade is aan die geboue van Contrack International en omliggende geboue in Kaboel aangerig toe ’n selfmoordbomaanvaller ’n vragmotor vol springstof daarnaas geparkeer het.



«Terug