Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Siriese leier gekap oor geweld

Deur: Reuters 2012-05-28 23:22
Amman (Jordanië). – Aktiviste in Sirië het gister gesê minstens 41 mense, onder wie agt kinders, is net in die afgelope dag in die stad Hama dood in artillerie-aanvalle deur pres. Basjar al-Assad se magte.

Opposisiemagte het gesê Siriese tenks en pantservoertuie het eergister op verskeie woonbuurte in Hama losgebrand nadat rebellevegters met Assad se magte slaags geraak het by padversperrings en elders.

Dit kom nadat minstens 108 mense, baie van hulle kinders, Vrydag in geweld in Hoela dood is.

Foto’s van die bebloede kinderlyke in Hoela is wêreldwyd met skok begroet en het bevestig dat die ses week oue skietstaking misluk het. Westerse en Arabiese lande wat teen Assad gekant is, het die Siriese regering die skuld gegee vir die sterftes in Hoela, terwyl die regering gesê het dit was “gewapende terroristegroepe”.

Die organisasie Human Rights Watch het berig inwoners van ­Hoela het gesê mans in militêre uniforms van die regering het ná die artillerie-aanval die dorp met gewere ingevaar en mans, vroue en kinders geskiet.

Die Verenigde Nasies (VN) se veiligheidsraad het die slagting in Hoela veroordeel.

“Sulke skandalige gebruik van geweld teen burgerlikes is ’n skending van internasionale reg en die verpligtinge van die Siriese regering ingevolge die veiligheidsraad se resolusies,” lui ’n verklaring.

Kofi Annan, wat die skietstilstand bemiddel het, het gister in Damaskus aangekom en gesê hy wil “ernstig en reguit” met Assad praat. Die twee mans sal vandag bymekaarkom.

Annan het gesê hy is geskok deur die moorde in Hoela en het die regering aangemoedig om “krag­dadige stappe” te doen om te wys hy is ernstig daaroor om ’n vreedsame oplossing vir die land se ­krisis te vind.

Rusland en China, wat reeds in die VN se veiligheidsraad resolusies vir sterker optrede teen Sirië geveto het, het die menseslagting veroordeel, ­­maar nie Assad se magte die skuld gegee nie.

Rusland het gesê daar is geen alternatief vir Annan se vredesplan nie en die vertrek van Assad is nie ’n opsie nie.

Die opstand in Sirië duur reeds 14 maande.
«Terug