Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Skeepswrak van poolse tog gekry

2012-08-21 08:32
Londen. – Die wrak van die SS Terra Nova, die skip waarop kapt. Robert Falcon Scott in 1910 na sy gedoemde ekspedisie na die Suidpool geseil het, is gevind.

’n Span van ’n Amerikaanse navorsingsmaatskappy het in Julie per ongeluk op die wrak afgekom tydens ’n roetinetoets van sonartoerusting aan die suidkus van Groenland.

Die skip het in 1943 daar gesink nadat dit deur ys beskadig is.

Een van die wetenskaplikes aan boord van die Schmidt Ocean Institute se R/V Falkor het iets vreemds op die seebodem raak gesien terwyl hulle besig was om dit te karteer.

Die navorsers het ’n kamera in die water laat afsak en het toe gesien die vreemde voorwerp is die oorblyfsels van ’n 57 m lange houtskeepswrak wat goed met foto’s van die Terra Nova vergelyk.

“Ons was verskriklik opgewonde toe ons die skip geïdentifiseer het,” het Leighton Rolley, ’n mariene tegnikus, gesê. Die skip is in 1884 vir die walvis- en robvloot in Dundee, Skotland, voltooi.

In 1910 het Scott die skip oorgeneem vir sy vaart na Antarktika om die eerste mens te probeer word wat die Suidpool bereik.

Scott en sy span het in 1911 voet aan wal gesit vir die tog na die Suidpool. Die Noor Roald Amundsen het op 18 Desember 1911, ’n paar dae voor hulle, die pool bereik en Scott en sy span het almal omgekom op pad terug na die Terra Nova ná hul teleurstelling om die Noorse vlag op die Suidpool te sien wapper. Hul lyke is agt maande later gevind.

Die Terra Nova het in 1913 teruggekeer na Brittanje, waar die Bowring Brothers dit gekoop het om in die robjagbedryf te gebruik.

In 1942 is dit ingespan om voorraad ten tyde van die Tweede Wêreldoorlog te vervoer en in 1943 het dit teen ’n ysberg gebots en gesink. – Schmidt Ocean Institute, AP, The Telegraph en BBC
 
«Terug