
’n Informele gedenkplek in Newtown, Connecticut, waar twee van die 26 slagoffers van die skietery in die Sandy Hook-laerskool gister begrawe is.
Foto: Eric Thayer, REUTERS
Newtown (Connecticut). – Adam Lanza, die Newtown-skoolskieter, kon weens ’n seldsame oorerflike toestand nie fisieke of emosionele pyn voel nie.
“As daardie seun hom gebrand het, sou hy dit nie geweet of gevoel het nie,” het Richard Novia, veiligheidshoof van die Newtown-skooldistrik tot 2008, gesê.
Novia het destyds baie met Adam en sy ma, Nancy, gewerk.
Lanza (20) het luidens berigte ’n ligte vorm van Asperger-sindroom gehad.
Volgens Elizabeth Laugeson, ’n sielkundige aan die Universiteit van Kalifornië in Los Angeles, hou die Asperger-sindroom dalk verband daarmee dat hy nie pyn kon voel nie. “Mense met Asperger-sindroom is óf oorsensitief vir dinge soos aanraking, klank en pyn óf soms ondersensitief.”
Volgens haar is in studies bevind sulke mense wat nie pyn kan ervaar nie, het nie empatie met diegene wat pyn op ’n gewone manier voel nie.
Laugeson het dit beklemtoon dat daar geen verband tussen Asperger-sindroom en ’n neiging tot gewelddadigheid is nie.
Die polisie soek nog na die motief vir Lanza se moordtog Vrydag in die Sandy Hook-laerskool in Newtown waar hy 20 ses- en sewejariges en ses volwassenes doodgeskiet het.
Hy het sy ma vier keer in die kop geskiet voordat hy na die skool is.
Volgens Peter Wlasuk, die Lanza-gesin se loodgieter, was Adam gek na gewelddadige videospeletjies soos Call of Duty, wat hy in ’n vensterlose kelder gespeel het.
Volgens hom was Lanza behep met wapens en militêre toerusting.

’n Skoolbus in Newtown langs ’n vlag wat halfstok hang ná die skoolslagting in die dorp. Die skool het gister heropen. Foto: Lucas Jackson, REUTERS
“Dit was ’n pragtige huis, maar hy het in die kelder gewoon. Ek het gedink dit is vreemd. Hy was wel ten volle ingerig daar: rekenaars, ’n badkamer, bed, lessenaar en TV, maar geen vensters nie.”
Adam en sy broer, Ryan (24), het ’n plakkaat gehad van elke stuk militêre toerusting wat die VSA ooit vervaardig het, het Wlasuk gesê.
Adam het die hardeskyf van minstens een van sy rekenaars verwoes. Die polisie is onseker of hulle inligting daaruit kan herwin.
Sy pa, Adam, ’n belastingkenner, en Ryan is al ure lank deur die polisie ondervra.
“Hulle net nog geen bruikbare inligting gegee wat kan help om die voorval uit te pluis nie,” het ’n ingeligte gesê.
– Saamgestel uit AP, Twitter-skakels, New York Post, The Sun, The Telegraph, The Atlantic Wire, Beeld-argief 
Adam Lanza Foto: REUTERS