Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Skip met tientalle van SA brand

Deur: Elsabé Brits 2012-08-09 21:32
Kaapstad. – Die Chamarel, ’n Franse kabelskip, lê gestrand aan die Namibiese Skedelkus.

Dié skip, wat gebruik is om ondersese kommunikasiekabels in stand te hou, was ’n bekende gesig in die V&A Waterfront.

Om 20:00 eergister is ’n noodsein uitgestuur nadat ’n brand aan boord ontstaan het. ’n Vissersboot en ’n patrollieboot van Namibië het die 56 bemanningslede, almal Suid-Afrikaners buiten twee Franse burgers en ’n bemanningslid van Mauritius, uit reddingsbootjies opgepik.

Didier Mainguy, sendinghoof van die skip, het gister bevestig die bemanning het die brand probeer blus, “maar hulle moes die skip verlaat. Dit is onseker hoe die brand ontstaan het.”

Niemand is beseer nie. Danny Jenni van die Maritieme Reddings­koördineringsentrum het gesê daar is aangemeld dat die brand in die “leefarea ontstaan (het)”.

’n Visserskip, Monie, en die Namibiese patrollieboot Nathaniël Maxuuilili het hulle te hulp snel.

“Die mense is uit die reddingsbote opgepik en die patrollieboot het almal na Walvisbaai geneem.”
 
«Terug