Damaskus. – Twee Siriese stede het gister asem opgehou vir nog ’n slagting deur regeringsmagte nadat minstens 87 mense dood is toe regeringsmagte gister uit helikopters op rebelle in Al-Heffa en Rastan losgebrand het.
Die Siriese menseregtebeweging het die situasie in Al-Heffa as “verskriklik” bestempel.
“Regeringstenks is by die ingange van die stad ontplooi. Hulle het nog nooit so naby gekom nie,” het Sema Nassar, ’n plaaslike aktivis, gesê.
Sy het verwys na berigte van die amptelike staatsnuusagentskap op Siriese TV dat ’n slagting in Al-Heffa en Tfil beplan word.
“Dit is ’n bron van groot kommer. Daar is blykbaar (regerings)planne om baie mense dood te maak,” het Nassar gesê.
Die ontplooiings bekommer die VSA ook. “Watter regering brand los vanuit helikopters op sy eie mense as hy nie desperaat is nie?” het Victoria Nuland, woordvoerder van die Amerikaanse departement van buitelandse sake, gesê.
Aktiviste in die provinsie Hama het gesê soldate spits hul toe op dorpies in dié streek, waar daar sterk teenstand teen die regering is.
“Ons is bekommerd oor die omvang van die geweld omdat ons hoor inwoners word as menslike skilde gebruik,” het Aboe Ghazi al-Hamwi, ’n aktivis, gesê.
Intussen word woudgebiede naby die grens met Turkye aan die brand gesteek.
Dit is klaarblyklik ’n taktiek deur pres. Basjar al-Assad om rebelle uit hul skuilings te dwing en dit moeiliker vir vlugtelinge te maak om oor die grens te kom.
Siriese soldate het ook landmyne langs die grens geplant. Rebelle in Turkye het gesê dit duur nou drie keer langer om oor die grens te kom.
“Dit het baie moeilik geword. Ons moet nuwe roetes vind wat baie ver weg is,” het Aboe Ahmad Lahloe, ’n rebel wat Siriese families in Turkye insmokkel, gesê.
Kofi Annan, die Verenigde Nasies (VN) se spesiale gesant in Sirië, het daarop aangedring dat VN-waarnemers toegang tot Al-Heffa gegee word.
Hy het twee maande gelede ’n skietstilstand bemiddel, maar dié sespuntplan is nou daarmee heen.