Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Vlieënier dood in gesteelde vliegtuig

2012-07-18 11:05
Salt Lake City. - 'n Vlieënier wat daarvan verdink word dat hy sy eksmeisie vermoor het, is Dinsdag dood aangetref in 'n passasiersvliegtuig wat hy na bewering op 'n lughawe in Utah gesteel en daarmee teen geparkeerde motors gebots het.

Brian Hedglin (40) het na wat berig word 'n kombers gebruik om oor 'n heining met lemmetjiesdraad op die St. George Munisipale Lughawe te klim voordat hy in die leë 50-sitplek CRJ200-vliegtuig van Skywest weggetrek het.

Die tuig het 'n eindpuntgebou getref voordat dit teen die geparkeerde voertuie gebots het.

'n Polisiebeampte op patrollie het omstreeks 00:50 buite die lughawe se grensdraad op 'n motorfiets afgekom waarvan die enjin nog geloop het.

Hy het na die eienaar van die fiets begin soek en in die proses die vliegtuig met 'n luierende enjin opgemerk.

Hy het die lugredery in kennis gestel. 'n Werknemer wat gestuur is om die enjin af te skakel, het Hedglin met 'n koeëlwond in die kop in die vliegtuig aangetref.

'n Woordvoerder van Skywest het gesê Hedglin was sedert 2005 'n vlieënier vir dié lugredery, maar was sedert 13 Julie op "administratiewe verlof".

Dit is dieselfde dag waarop die polisie die lyk van Hedglin se eksmeisie, Christina Cornejo (39), in Colorado Springs gekry het. Daar was verskeie steekwonde aan haar liggaam.

Die Gazette in Colorado Springs het na hofstukke verwys wat daarop dui dat Hedglin vier jaar lank met Cornejo uitgegaan het en dat hy in Maart gearresteer is omdat hy haar volgens die polisie geteister het.

'n Weerhoudingsbevel is teen hom uitgereik en hy sou in Augustus in die hof verskyn nadat borgtog aan hom toegestaan is. - Sapa-AP

Kyk na video op YouTube
«Terug