Dit is veral die ysbere wat in Hudsonbaai in Kanada voorkom wat tans die kwesbaarste is vir klimaatsverandering.
So het die bioloog mnr. Andrew Derocher van die Universiteit van Alberta die naweek in ’n onderhoud met die aanlyntydskrif Yale environment 360 gesê.
Derocher en sy kollegas bestudeer die ysbeerbevolking van Hudsonbaai die afgelope 30 jaar en het nie net ’n afname in die grootte van die bevolking opgemerk nie, maar veral ook in die diere se toestand.
Hul liggaamsvet toon jaarliks ’n merkbare afname, sê Derocher.
In die 1980’s het Hudsonbaai se ysbere agt maande lank op see-ys gebly - die platform waarvan hulle robbe jag.
Die ander vier maande van die jaar het hulle vasteland toe gekom waar dragtige ysbere hul kleintjies gekry en gevoed het.
Die bordjies is egter die laaste paar jaar verhang.
Dragtige ysbere word, weens die dunner ys in die Noordpool, nou gedwing om vroeër vasteland toe te kom en langer hier te bly.
Derocher vertel vanjaar het ysbere so vroeg as 11 Junie vasteland toe gekom waar hulle nou van hul liggaamsvet moet oorleef.
“Hierdie ysbere, veral die dragtiges, kry baie swaar. Hulle verloor daagliks sowat 1?kg aan gewig en sal nie weer ’n rob voor volgende jaar in Februarie of Maart sien nie.”
Die ysbere van Hudsonbaai is een van 19 subbevolkings en is die maklikste om te bestudeer en dop te hou omdat hul habitat so ver suid van die Noordpool is.
’n “Vet” dragtige ysbeer gee gewoonlik geboorte aan ’n twee- of ’n drieling, terwyl ’n maer ysbeer dalk een kleintjie in die wêreld bring.
Die kleintjie oorleef dikwels nie omdat sy ma self nie genoeg vet het om van te oorleef nie.
Dit gebeur ook nou meer dikwels dat van die ysbere nie dragtig kan raak nie omdat hul toestand so swak is, sê Derocher.
Die afgelope 30 jaar het die ysbeerbevolking in Hudsonbaai van 1 200 tot 900 gedaal.
“Dit kan oornag gebeur dat die bevolking homself nie meer kan handhaaf nie en die diere uitsterf,” sê hy.
Wetenskaplikes is ook geskok oor die voorkoms van kannibalisme onder Hudsonbaai se ysbere.
“Kannibalisme onder die diere het die laaste paar jaar die hoogte ingeskiet,” vertel Derocher.
“Dit is wat gebeur as ’n dier desperaat is van die honger.”