Share

Trane rol oor Karoo se Ouberg

Kom trap op een dag 245 km deur die Karoo, het die uitnodiging aan bergfietsryers gelui, skryf Fourie Kotze.

’n Paar maande gelede het die bergfietsgemeenskap interessante e-pos ontvang wat ryers nooi na die Aspen-Trans-Karoo-wedren oor 245 km.

Nou ken ek ook al my landgenote. Gee hulle ’n uitdaging (hoe groter, hoe beter) en hulle gryp dit met albei hande aan.

Dit was nie lank voordat die afsnygetal van 220 ryers bereik is nie, en ná ’n paar maande van lang ure in die saal het die 220 geharde trappers by Eselfontein, net buite Ceres, aangetree.

Onder die ryers was die minister van gesondheid, dr. Aaron Motsoaledi, asook Stephen Saad, hoofbeampte van die Aspen-groep. Laasgenoemde het die hele afstand getrap en sodoende meer as R10 miljoen vir pediatriese gesondheidsorg ingesamel.

Die wedren begin op die pragtige Eselfontein en neem die ryers al met ’n grondpad langs tot bo-op die Swaarmoedpas.

Daarna volg lang opwindende afdraande totdat die eerste kontrole- en waterpunt ná 38 km opduik.

Die volgende 53 km strek deur die kenmerkende Karoolandskap – lang, plat en reguit paaie wat jou verwonderd laat oor die uitgestrektheid van ons land.

Een ryer het opgemerk dat ’n mens op hierdie paaie tot môreoggend kan sien.

Ná waterpunt 2 op die 91 km-merk begin die roete verander. Die plat paaie word oppe en affe wat die ryers oor die volgende 55 km teister.

Dit is egter ook een van die mooiste dele van die roete. Die pad loop knap langs die Tankwa-Karoo Nasionale Park verby. Die uitsig hier is onoorvertelbaar mooi met die Roggeveld-platorand, die Sederberge en die Klein Roggeveldberge wat die agtergrond vorm.

Die algehele wenner van die uithouwedren, Raynard Tissink, het hierdie deel van die roete gebruik om weg te breek uit ’n klein groep ryers om uiteindelik ná 9 uur en 42 minute eerste oor die eindstreep te jaag.

By waterpunt 3 is die ryers met die heerlikste kos beloon. Maar selfs die beste kok op aarde sou nie die gevoel van afwagtende onheil in die die ryers se gemoed kon verdryf nie – 45 km af met die pad het Ouberg gewag.

Ouberg is ’n monster van ’n berg. Pieter van Wyk, roete-organiseerder, en Glyn Broomberg, wedrenbestuurder, het reeds lank voor die tyd gewaarsku dat Ouberg baie ryers sal knak.

En as ’n mens na die profiel kyk, sou jy geneig wees om saam te stem: 10 km van kronkelende grondpad met ’n gemiddelde gradiënt van 14%. Ek het by tye 27% op my Polar waargeneem!

Dit was slegs die voorste ryers wat Ouberg op die fiets sou tem; die ander moes by tye afklim en stoot, en selfs dít was ’n uitputtende ervaring.

Vir die ryers wat voor die einde van daglig tot bo-op Ouberg gekom het, was die uitsig ongetwyfeld die pyn werd – ’n verruklike panoramiese uitsig van die Karoo in al sy glorie.

Vir die ryers wat soos oorlede Pa geglo het dat ná elke opdraand ’n lekker afdraand volg, het ’n onaangename verassing gewag: Ouberg loop uit bo-op ’n platorand, en die oorblywende 45 km se trap na Sutherland was allesbehalwe afdraand.

Gelukkig vir meeste van die ryers het die laaste skof in die donker afgespeel. Hoewel hulle dit in die bene kon voel, is hul oë die finale op-en-af-kilometer tot by die Sutherland-buiteklub gespaar.

Die volgende oggend by die prysuitdeling was Ouberg op almal se lippe, en die gevoel was dat die ryers die volgende jaar terug sal wees om Die Monster ’n ding of twee te wys.

Daardie stryd sal egter vir 2014 moet wag, want aanstaande jaar begin die wedren by Sutherland. Dus sal dit Ouberg áf wees, en daarna grondpad langs Ceres toe.

- Fourie Kotze is ’n vryskutskrywer van Stellenbosch.


Die Tankwa-Karoo is geen grap nie. Raynard Tissink op pad na sy sege in die moordende wedren oor 245 km. Foto’s: ASPEN-TRANS-KAROO

 
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Should the Proteas pick Faf du Plessis for the T20 World Cup in West Indies and the United States in June?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes! Faf still has a lot to give ...
67% - 842 votes
No! It's time to move on ...
33% - 414 votes
Vote
Rand - Dollar
18.86
+0.8%
Rand - Pound
23.60
+0.8%
Rand - Euro
20.24
+0.8%
Rand - Aus dollar
12.34
+0.5%
Rand - Yen
0.12
+1.5%
Platinum
924.00
-0.2%
Palladium
975.00
-1.6%
Gold
2,346.20
+0.6%
Silver
27.58
+0.5%
Brent Crude
89.01
+1.1%
Top 40
69,121
+1.0%
All Share
75,054
+1.0%
Resource 10
62,696
+0.9%
Industrial 25
103,560
+1.0%
Financial 15
15,960
+1.0%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE