Volgens my gewoonlik onnoukeurige berekeninge het ’n gemiddelde gr.12-leerling (ag, ek bedoel leerder) die afgelope jaar 20,25 werkdae minder klaskontak met haar onderwysers gehad.
Dit het, luidens bevestigde berigte, gelei tot ’n verstommende styging in die nasionale slaagpersentasie van 60,6% tot 67,8%, oftewel sowat 7 persentasiepunte.
Hoe moet ons hierdie mirakel interpreteer? Beteken dit onderwysers is ’n struikelblok vir ons leerders se opvoeding, of beteken dit bloot te veel van ’n goeie ding is sleg?
Hoe dit ook al sy, dit is potensieel ’n internasionale deurbraak in die pedagogiek. Ek weet hierdie teorie is teenintuïtief, maar menige wetenskaplike deurbraak is al deur gelukkige toeval gemaak.
Wat ons departement van basiese onderwys nou te doen staan, wil ek voorstel, is om hierdie “hipotese van die half nuttelose onderwyser” vanjaar te toets deur Sadou te vra om verlore klaskontak met leerders met ’n verdere 20 dae op te skuif tot ’n ronde 40 werksdae.
As my teorie steekhou, sal die nasionale slaagpersentasie met ’n verdere 7 persentasiepunte styg, tot ’n forse 75%. As die proefneming vanjaar slaag, kan ons die getal verlore kontakdae in 2012 van 40 tot 60 opstoot, ensovoorts.
Dit is dalk net moontlik – mits my teorie steekhou – dat ons op dié manier binne vyf jaar die magiese 100%-slaagsyfer sal verbysteek. Inderdaad kan ons hierdie doelwit selfs vroeër bereik, want onthou, oor drie jaar sou matrikulante reeds vier jaar van minder onderwyserkontak hê, nie net één jaar nie. Nodeloos om te sê, ’n slaagsyfer van meer as 100% is ’n edele doelwit en sou groot voordele vir ons land inhou.
ERWIN RODE
Eversdal