DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Grondwet kry skuld vir swak regering

2012-06-21 00:00
Die waarskuwing van prof. Marinus Wiechers, dat die ANC op sy beleidskonferensie aanstaande week in Midrand ’n aanslag op die Grondwet kan voorberei, kom baie tydig.

Dikwels is die geskiedenis vol ironie. In die apartheidstyd het witmense as minderheid gemeen hul heil lê nie in ’n demokratiese regstaat nie, terwyl die ANC sy mond vol oor menseregte en demokrasie gehad het. Vandag is dit die wittes wat, saam met ander minderhede, deur die Grondwet beskerm word, en die ANC wat dit as ’n lastigheid sien wat in die pad van sy magswellus staan.

Daar is veral drie bronne vir die ANC se ontevredenheid met die Grondwet. Die eerste twee is die party se intellektuele begronding in die kommunisme en die Afrikanisme, en die derde die party se absolute onvermoë om Suid-Afrika behoorlik te regeer.

Een van die mees verwoestende erkennings uit ANC-kring self is dat die party se beleid van kader-ontplooiing deels verantwoordelik is vir die ondoeltreffendheid van sy regering.

Die waarheid is dat Suid-Afrika nog nooit só ’n swak bewind soos die huidige regering van pres. Jacob Zuma gehad het nie. Sedert die ANC se bewindsoorname in 1994 het die meeste dinge in die land sienderoë verval.

Dalk die ergste is dat lede van die nuwe ryk elite, aangesteek deur die ANC-kaders, net na hul eie beursie kyk en die arm swart bevolking in die townships en plakkerskampe laat krepeer.

Om die aandag van dít alles af te trek is ’n afleidingsmaneuver nodig. En dus, net soos in Zimbabwe gebeur het, kry die Grondwet en die minderhede die skuld.

Suid-Afrikaners moet daarom in die tweede helfte van die jaar in die aanloop tot Mangaung ’n aanswellende aanslag op die Grondwet, die demokrasie en die regstaat verwag.

Uiteindelik is dit waarskynlik die Grondwet self wat die redding bied, mits Suid-Afrikaners die politieke wil het om dié dokument as wapen te gebruik.
  Die Burger
«Terug