Met die skielike gedwonge uittrede van die 35-jarige Mark Boucher, die Proteas se paaltjiewagter, groet Suid-Afrikaanse sport ’n getroue dienskneg.
Suid-Afrika en wêreldkrieket sê totsiens aan een van die beste paaltjiewagters wat die sport nóg gehad het.
Suid-Afrika se 267ste toetsspeler het die afgelope 15 jaar nie net agter die paaltjies nie, maar ook in kritieke stadiums met die kolf, voortreflike diens aan die spel gelewer.
Sedert hy in Oktober 1997 sy buiging gemaak het, het hy in nie minder nie as 147 toetse die paaltjiewagter-handskoene gedra.
Hy sou aan die einde van die komende toetsreeks in Engeland uitgetree het, maar die oogbesering wat hy vandeesweek opgedoen het, het hom die kans ontneem om in die volgende paar weke die 150-kerf in toetse te behaal. Hy sou die eerste paaltjiewagter geword het wat dié mylpaal bereik.
Nog tragieser is dat hy net twee vangskote gekort het om die eerste paaltjiewagter te word wat die 1 000-merk verbysteek.
Tog kan hy spog dat hy in internasionale krieket gehelp het om van 1 000 kolwers ontslae te raak omdat hy een paaltjie as bouler op sy kerfstok het en boonop op ’n keer as buiteveldwerker ’n speler uitgevang het.
Toe Dave Richardson, nou die uitvoerende hoof van die Internasionale Krieketraad, in 1998 as Protea-paaltjiewagter uitgetree het, was daar vrae of iemand sy handskoene sou kon vol staan.
Dié handskoene het Boucher so goed gepas dat daar nou met sý uittrede gevra word of daar ’n waardige opvolger vir hom is.
Boucher het in sy lang loopbaan vir die Proteas onder die kapteinskap van Hansie Cronjé, Shaun Pollock én Graeme Smith gespeel.
Van Lords tot die Sydney-krieketveld, van Nuweland tot die Wanderers lig krieket sy pet vir M.V. Boucher.
Die Burger wens die Proteas, wat hulle nou moet vereenselwig met die afwesigheid van ’n staatmaker, sterkte toe.
Die Burger