DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Le Clos wys waartoe SA in staat is

2012-08-02 06:00
Die manjifieke prestasie van Chad le Clos is een wat nog lank golwe gaan maak. Vir iemand van die suidpunt van Afrika – met min amptelike steun en bronne – om ver van die huis met die beste in die wêreld af te reken is nie net een vir die rekordboeke nie.

Dit bevat al die bestanddele wat legendes skep, wat bewonderende plakkate teen kinders se mure word en wat volgende geslagte inspireer.

Dit was ’n dramatiese eindronde in vlinderslag – een van die uitputtendste nommers in swem – teen die wêreld se beste. Nie veel mense het die 20-jarige Durbaniet veel kans gegee om ’n medalje te wen nie, wat nog van ’n goue medalje.

Boonop het die menslike torpedo Michael Phelps van Amerika in die baan langsaan as gunsteling aangetree met die ideaal om die eerste man te word wat dieselfde individuele nommer by drie Speles wen.

Die hele Suid–Afrika het waarskynlik asem opgehou toe die haas onmoontlike in die laaste been gebeur – Clos draai saam met die gunstelinge in ’n ideale posisie vir ’n bronsmedalje.

Toe nie. Oor die laaste 15 meter het Le Clos die beste swemmer van alle tye haal vir haal ingekatrol en skaars met ’n vingerpunt geklop. Die uitslag tussen goud en silwer het op die ou einde met vyf honderdstes van ’n sekonde verskil.

Selfs die kommentators is onkant betrap: met die eerste omdraaislag het hulle gesê dis goed dat Le Clos in die baan langs Phelps swem, om hom (Phelps) amper soos ’n pasaangeër vorentoe te help!

Waarom word sy oorwinning as epies beskou? Cameron van der Burgh het immers ook ’n goue medalje verower en boonop die wêreldrekord verbeter.

Die punt is dat almal verwag het Van der Burgh sou wen en dat al die voorafgaande daarop gedui het.

Niemand het egter verwag dat Le Clos sou wen nie. Hy kom immers van ’n onbekende landjie iewers aan die suidpunt van Afrika.

En toe wys hy hulle. Bravo!

  Die Burger
«Terug