DieBurger

Phillip Tobias se groot nalatenskap

2012-06-12 05:17

‘Wanneer ’n ou man doodgaan, brand ’n biblioteek af.”

’n Mens dink onwillekeurig aan dié gesegde uit Afrika met die afsterwe van prof. Phillip Tobias.

Tobias, wat verlede week oorlede is, het gelukkig in sy lang en glorieryke loopbaan moeite gedoen om sy kennis oor te dra in ’n hele spektrum van velde wat wissel van die filosofie van wetenskap tot genetika.

Dit was egter sy bydrae as paleontoloog wat van hom amper ’n huishoudelike naam gemaak het. Tobias het met sy toeganklikheid en fyn sin vir humor daarin geslaag om lewe te gee aan dié studieveld.

Dit is dan ook deur sy volgehoue bemoeienis dat die Sterkfontein-gebied, wes van Johannesburg, deesdae ’n Wêrelderfenisgebied is.

Dit lok nie net toeriste nie, maar is ook ’n wetenskaplike terrein waar voortgesette navorsing gedoen word.

Tobias het in sy lewe meer as ’n duisend navorsingsartikels gepubliseer, maar was méér as net ’n akademikus.

Sy meelewendheid word ten beste geïllustreer deur die akademiese toga wat hy graag gedra het tydens anti-apartheidsoptogte.

Suid-Afrika het verlede week nie net ’n gesiene wetenskaplike verloor nie, maar ’n mensch. Tobias verdien om onthou te word, en nie net deur sy oudstudente nie.

In ’n tyd waar straatnaamsveranderings om elke hoek en draai gebeur, kan gerus oorweeg word om op dié manier hulde te bring aan Tobias.

Krugersdorp het die Skotsgebore Robert Broom, wat as paleontoloog in Sterkfontein en Swartkrans gewerk het, op dié manier vereer.

Suid-Afrikaners is gewoonlik geesdriftig in hul heldeverering vir sportpresteerders en glansmense.

Akademiese uitmuntendheid is ’n prestasieveld wat dikwels gering geskat word, terwyl presteerders in dié veld eintlik ’n onskatbare nalatenskap het en óók as helde gehuldig moet word.

Die Burger
«Terug