DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Staat moet beter waarde vir geld bied

2012-06-19 00:00

Pravin Gordhan, minister van finansies, het verlede week sy kollegas in die parlement gewaarsku dat belastingbetalers genoeg gehad het van wanbesteding deur die staat: “Ons moet onthou dit is belastingbetalers se geld. Belastingbetalers raak ongeduldig dat ons nie waarde vir geld bied nie.”

Net ’n dag later het die Staatsdienskommissie (SDK) aan die parlement verslag gedoen dat ’n groep van 15 staatsdepartemente wat ontleed is, minder as 50% van hul teikens vir dienslewering behaal.

Prof. Richard Levin, direkteur-generaal van die SDK, het gesê dienslewering gaan agteruit: “Die samelewing is besig om vertroue in die staatsdiens te verloor.”

Om te bewys dat Gordhan en Levin die reine waarheid praat, kon Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, Donderdag op ’n mediakonferensie nie sê of alle skole in Limpopo wel teen Vrydag handboeke sou hê soos wat die hooggeregshof verlede maand beveel het nie.

Die beste wat Motshekga kon doen, was om te sê die aflewering van handboeke “is op dreef”.

Vragmotors is glo op pad met vragte handboeke na distrikspakhuise.

Wanneer die boeke van die pakhuise af uiteindelik die leerlinge sal bereik, is ’n ope vraag.

Let wel, dis nie volgende jaar se boeke wat hier ter sprake is nie. Dis vanjaar se handboeke vir Limpopo se leerlinge in gr.1, gr.2 en gr.3, asook gr.10.

Dit sal dalk betyds vir die derde kwartaal wees. Dít eers nadat ’n besorgde nie-regeringsorganisasie hof toe is.

Gordhan het in sy tyd as hoof van die SA Inkomstediens met uiters doeltreffende belastinginsameling vir die regering ruimte geskep om baie geld aan maatskaplike ontwikkeling te bestee.

Met ’n strammer ekonomie en belastingbetalers wat “ongeduldig” raak (om dit sagkens te stel), verhoog die druk op die regering om waarde vir geld te lewer.

ANC-leiers moet dringend dié boodskap hoor.

Die Burger
«Terug