Die Waterkloof-4 ís in vele opsigte “ouens soos ons”. Miskien het ons juis daarom ’n nasionale dag van rou nodig, skryf Herman Wasserman.
Vrydag, op Versoeningsdag, is die berig prominent op Die Burger se voorblad: Twee lede van die Waterkloof-4 wat tans tronkstraf uitdien omdat hulle haweloses aangerand en vermoor het, gaan uit die tronk vrygelaat word om huisarres uit te dien.
Die berig maak dit duidelik dat dit hier nie sommer om enige geweldenaars gaan nie. Nee, die berig beeld hulle uit as die soort ouens wat lesers van Afrikaanse koerante veronderstel is om te herken: Hulle verlang na Ma se kos, het mooi hard en voorbeeldig gestudeer, een van hulle wil gaan rugby speel vir die Pumas. Hulle dank die Here wat hulle “gedra” het, en spreek hul advokaat aan as “Oom”.
Ja-nee, dis Onse Mense. Of meer spesifiek, Ons Kerk se Mense.
Die rede vir hul gevangenisstraf word net vlugtig genoem – maar die weerlose hawelose man wat hulle vermoor het, en die ander een wat wreed aangerand is, se name word nie genoem nie. Dis Krismis; kom ons fokus dus nou daarop dat hulle tog so lus vir ’n stukkie beesfilet is.
Die berig laat nie na om ons te vertel hulle was “modelgevangenes” en is as misdadigers “gebrandmerk” nie.
’n Mens het nie die kultuurkritikus Stuart Hall nodig om die voorkeurlesing van Hanti Otto se berig en die daaropvolgende opvolge te ontrafel nie. Ons behoort bly te wees dat die ouens vanaand hopelik tuis sal slaap (hoewel opvolgberigte ons op die hoogte hou van die frustrasie wanneer die vrylating op die nippertjie opgeskort word).
Die punt van hierdie diskoers is nie alleen dat ons moet simpatiseer met die jong moordenaars en hul families wie se lewe omvergewerp is, of dat ons ons moet indink in die lewe van mans wat as jongelinge ’n verskriklike misstap begaan het nie. Want boys will be boys, dan nie? Die berigte van die laaste paar dae wil hê ons moet meer doen as net simpatiseer met die Waterkloof-4.
Die kultuur-spesifieke detail wat hulle vir ons herkenbaar maak, word ingespan sodat die teikenmark (en ek gebruik die word “mark” eerder as “publiek” of “lesers” doelbewus) hom met hulle sal vereenselwig. Per slot van sake sien ons nie gereeld voorblad-hoofberigte in die Afrikaanse media oor jong swart misdadigers wie se lewe ook verwoes word deur ’n jeugdige tronkvonnis nie. (Daardie jeugdiges het in die algemeen natuurlik nie dieselfde toegang tot ’n top-regspan nie. En laat ons maar nie vra waar al die vurige Afrikaanssprekende voorstanders van die doodstraf nou is nie.)
Die kwessie van identiteit ís die hele punt, maar een wat terselfdertyd nie na behore ondersoek word nie. Die Waterkloof-4 ís in vele opsigte “ouens soos ons”. Hulle kom uit die middelklas- Afrikaanse omgewing wat lesers van Die Burger so goed ken. Hulle is produkte van Afrikaanse skole en Afrikaanse kerke.
Maar die vraag is: Hoe behoort daardie herkenbaarheid ons te laat voel? En hoe kan die media ons help om krities en verantwoordelik met daardie herkenbaarheid om te gaan?
Moet ons tevrede wees met Afrikaanse media wat smous met snoesige gevoelens van ons-wees, van Afrikaans-wees, Mamma se kos en stout seuns wat rugby speel en bergies bliksem? En dit nogal op ’n vakansiedag wat in die gees van die demokrasie omskep is van ’n herdenking van etniese en rassekonflik tot een wat daarop gemik is om ons oor versoening te laat dink?
Moet Afrikaanse lesers nie juis op Versoeningsdag kan opstaan en vir Afrikaanse koerante sê “Ek is jammer, maar nie in my naam nie”?
Nou sal die voorspelbare reaksie van sommige Afrikaanses seker wees om die Waterkloof-4 se misdade te relativeer, nes die Reitz-studente se minagting van swart koshuiswerkers se menslikheid ’n paar jaar gelede gerelativeer is. Wat van die plaasmoorde? sal hulle vra. Wat van al die verkragtings, die kapings, die aanrandings?
So ’n reaksie kyk die kern mis. Dit gaan nie oor die opweeg van een misdaad teenoor ’n ander, of die weeg van een straf teenoor ’n ander nie. En om as Afrikaanssprekende te weier om jou te vereenselwig met banale gevoelens van groepwees in die konteks van ’n gruwelike geweldsmisdaad soos dié waaraan die Waterkloof-4 skuldig bevind is, beteken ook nie dat ’n mens noodwendig wil sien dat jong mense se toekoms verwoes word deurdat hulle in die tronk bly sit nie.
Daar is plek vir vergifnis en medelye sonder om te verval in die oppervlakkige emosionele reaksies soos dié wat Die Burger se berigte probeer uitlok het.
’n Weersin in goedkoop identiteitspolitiek in hierdie geval spruit nie uit ’n begeerte tot straf en wraak nie, maar ’n begeerte tot geregtigheid. En ook nie vergeldende geregtigheid (retributive justice), wat oortreders wil sien vrot in die tronk nie, maar herstellende geregtigheid (restorative justice), wat daarop gemik is om oortreders verantwoordelikheid te laat aanvaar vir onreg, ’n poging te laat aanwend om die gevolge van die onreg te verlig, en om ’n herhaling van die onreg te vermy.
In hierdie tipe geregtigheid kan ook die media ’n rol speel. Hoe? Deur oplossings te soek eerder as om konflik op die spits te jaag. Deur die groter konteks van geweld, afstomping en sinisme in die samelewing te ondersoek en geleenthede vir samewerking en gedeelde belange te identifiseer eerder as om opnuut teenstellings op te stel tussen “ons” en “hulle”. Deur te weier om hande in die lug te gooi en te sê: “Maar dis wat ons lesers wil hê!”
Dalk moet ons ook anders dink oor ons openbare rituele. ’n Paar jaar gelede was ek bevoorreg om as lid van die Libertaskoor in die Duitse Reichstag (parlement) op te tree op die Volkstrauertag – ’n jaarlikse treurdag vir die hele volk waarop gerou word oor die gevallenes van oorloë en die slagoffers van geweld.
Miskien het ons in hierdie land ’n jaarlikse dag van rou nodig, ’n dag waarop ons politiekery rondom misdaad sal vermy en in ootmoed en diep kommer ons hoof sal laat sak en onsself afvra hoekom ons mekaar soveel geweld bly aandoen. Dat ons sal treur oor alle geweld, alle verwoeste lewens, alle ouers wat rondom Kersfees van hul seuns geskei is – en nie net dié wat ons as “ons s’n” herken nie.
Dalk sal ons dan ook uiteindelik ’n punt bereik waar Afrikaanse koerante goedkoop sentiment oor “ons” en “hulle” sal vermy en eerder sal probeer om hand in eie boesem te steek en ondersoekende joernalistiek te bedryf om vas te stel wat 17 jaar ná die koms van demokrasie in “ons” gemeenskap verkeerd is dat jong seuns dink dit is prettig om haweloses aan te rand en te vermoor. Waar het ons verkeerd gegaan, en wat kan ons daaraan doen?
Wie weet, dalk sal die Afrikaanse koerante selfs slagoffers van “ons” geweld die minimum menslike waardigheid betoon deur vas te stel wat hul naam waam was.
+++ Herman Wasserman is ’n voormalige joernalis en tans professor in joernalistiek en mediastudie aan die Rhodes-universiteit in Grahamstad.