OSTRAVA. – Usain Bolt, Jamaika se wêreldrekordhouer in die 100 m, was gedurende die week vol bravade, maar gisteraand hier op die Golden Spike-byeenkoms, het hy gewys dat hy ook maar mens is toe hy dié afstand in 10.04 s gewen het.
Dit gebeur nie aldag dat dié legendariese atleet, wat met ’n beste tyd van 9.58 spog, nie die 100 in vinniger as 10 s kan afnael nie.
“Ek is regtig teleurgesteld. Ek wou beslis vinniger gehardloop het,” het Bolt in ’n TV-onderhoud in die Tsjeggiese Republiek gesê.
Bolt het swak weggespring en toe hy uit sy blokke was, was hy ’n meter agter die ander atlete. Ná 50 m was hy steeds agter.
Dit het ’n grootse poging oor die laaste 50 geverg om die wedloop te wen. Kim Collins was tweede in 10.19 en Davis Patton derde in 10.22.
Suid-Afrika se Simon Magakwe se oorgretigheid het hom duur te staan gekom. Hy was heeltemal te haastig uit sy wegspringblokke en dit het daartoe gelei dat hy gediskwalifiseer is.
Sy landgenoot Caster Semenya het met vreemde taktiek verrassend tweede in die 800 geëindig.
Ná die eerste 400 was sy derde laaste en dit het gelyk of sy nie daarin belanggestel het om te hardloop nie. Sy het toe met haar kenmerkende vaartversnelling die een atleet ná die ander verbygesteek.
Kenia se Olimpiese kampioen, Pamela Jelimo, het in 1:58.49 gewen. Semenya se tyd was 2:00.80 en Fantu Magisu van Ethiopië was derde in 2:01.30.
Sunette Viljoen was vyfde in die spiesgooi met 61.84 m. Barbora Spotkavova (Tsjeggiese Republiek) het met ’n gooi van 67.68 gewen. Maria Abukumova (Rusland) se gooi van 64.34 was die tweede beste van die aand en Kathryn Mitchell (Australië) was derde (64.34).
Viljoen het voorspel dat Spotkavova en Abukumova met groot gooie vorendag sal kom.
“Dit is hoe hulle dinge doen. Hulle open hul seisoen met gooie van 65 m. Daarenteen is ek ’n stadiger beginner. Die tyd van die jaar gooi ek gewoonlik maar 61 m.
“So ek is nie te bekommerd oor dié uitslag nie. Ek weet ek sal die grotes begin gooi wanneer dit regtig saak maak,” het Viljoen gesê wat op verlede jaar se Wêreldbyeenkoms in Daegu haar spies 68.38 laat trek het.
Die SA Paralimpiese atleet Oscar Pistorius het in die 400 in die laaste plek (47.66) geëindig.
LaShawn Merritt (VSA) het in 45.13 gewen.
Elroy Gelant was 6de in die 3 000 in 7:41.38.
– Sportredaksie 
Usain Bolt van Jamaika rek gisteraand sy treë om die 100 m op die Golden Spike-byeenkoms in Ostrava te wen.
Foto: David Werny | REAUTERS
Die Burger