DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Els klou en Scott vou in pylvak

Deur: Marizanne Kok 2012-07-23 05:27
LYTHAM. – Die breedste glimlag in die ganse Brittanje het gisteraand behoort aan Theodore Ernest Els – vanoggend ’n viermalige major-kampioen en tweemalige wenner van die gesogte Claret Jug.

Els het gister die ondenkbare vermag toe hy ’n agterstand van ses houe aan die begin van die laaste ronde van die Britse Ope op die Royal Lytham & St. Annes-baan uitgewis het om die Australiër Adam Scott met een hou te klop.

Op die rype ouderdom van 42 het die Suid-Afrikaanse gholfspeler gisteroggend opgestaan met die wete dat Ope-glorie steeds binne sy bereik is. Maar dit het vir ’n groot deel van die dag na ’n onwaarskynlike droom gelyk.

Els was ná nege putjies van sy rondte ses houe agter, maar het daarna losgetrek met vier voëltjies oor die laaste helfte van die Lytham-baan.

Daar was genoeg wind om die oorgrote meerderheid van die spelers se dag te bederf – maar dit was daar waar Els se ervaring die deurslag gegee het.

En die selfvertroue wat hy uit sy top10-uitslag in verlede maand se Amerikaanse Ope geput het en waarmee hy die skoonvelde van die Royal Lytham & St. Anne’s-baan die hele week bewandel het, was duidelik sigbaar in ’n uitmuntende vertoning op die setperke.

Sy opmars na die titel het begin met voëltjies op die 10de en 12de putjies – die laaste ná ’n goeie sethou wat die hele gholfbaan soos een man aan die gons gekry het.

Oomblikke later het Scott ’n sethou vir ’n voëltjie op die tiende gemis, en hoewel Els toe nog vier houe agter was, kon ’n mens voel hoe die gety draai.

Tot in daardie stadium het niemand nog die groot voorsprong van vier houe waarmee Scott die dag begin het, bedreig nie ... maar daar was ’n vasbeslote kyk in die groot Suid-Afrikaner se oë.

’n Sethou van drie meter vir voëltjie op die 14de het die agterstand tot drie laat krimp.

Daarna het Els op die volgende twee putjies op meesterlike wyse syfer gered.

Wat daarna gebeur het, sal vir die res van Scott se loopbaan by hom spook – hy het brouhoue op die laaste vier putjies aangeteken.

Met Els wat die eerste voëltjie in ’n lang tyd op die 18de putjie aangeteken het, moes Scott daar syfer red om sy kanse lewend te hou.

Hy het nie – en in ’n mate kan ’n mens seker sê hy het dié titel weggegooi.

Maar dit sal wegneem van Els se poging: die Suid-Afrikaner het ’n wonderlike 68 (twee houe minder as baansyfer) op sy telkaart ingevul, terwyl Scott 75 houe gespeel het en Graeme McDowell en Brandt Snedeker – die spelers wat die tweede plek aan die begin van die dag gedeel het – onderskeidelik 75 en 74. Selfs Tiger Woods het met ’n 73 uitgesak.

«Terug