DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Olivier gee SA weer hoop

Deur: Marizanne Kok 2012-08-07 06:00
LONDEN. – Die 800 m-atleet André Olivier het Suid-Afrika gisteroggend weer rede gegee om te glimlag toe hy vir die Olimpiese halfeindronde gekwalifiseer het.

Olivier het net die nodigste gedoen om met 1 minuut en 46.42 sekondes derde in sy uitdun te eindig en vir vanaand se halfeindronde te kwalifiseer. Die voorste drie atlete in elke uitdun het regstreeks deurgedring.

Die 22-jarige Olivier, een van die jongste lede van die Suid-Afrikaanse span, het die afgelope drie maande drie keer sy persoonlike beste tyd gesnoei – eers tot 1:45.20, toe 1:45.09 vir brons op die Afrika-byeenkoms en minder as drie weke gelede in Monaco tot 1:44.29.

Hy kan dus vanaand weer onder die 1:45-kerf duik as alles reg verloop.

“Ek was verbaas oor die tyd, want die laaste 100 m was baie stadig,” het Olivier gesê.

Hy is egter oorgehaal vir die halfeindronde en het reeds planne in sy agterkop.

“Indien die tempo hoër is, is ek reg om weer op my beste tyd te verbeter. As die halfeind ’n stadige wedloop gaan wees, sal ek iets spesiaals oor die laaste deel moet doen. In ’n vinnige wedloop sal ek my kans afwag tot oor die laaste 100 m.”

Olivier het skaars gesweet in sy uitdun. Hy was ná die eerste rondte in die vierde plek, het oor die volgende 300 m opgeskuif tot tweede en daarna ontspan in die wete dat sy plek in die top-3 verseker was.

Sy uitdun is in 1:46.05 deur die Amerikaner Duane Solomon gewen. Soedan se Abubaker Kaki het die beste tyd in al die uitdunne – 1:45.51 – genael.

Olivier, wat in sy eerste Olimpiese Spele in aksie is, stel sy visier nou op die eindronde. Hy sê die atmosfeer tydens sy uitdun was ongelooflik. “Tagtigduisend mense by ’n oggendsessie – ek kon dit skaars glo.”
  Die Burger
«Terug