KIMBERLEY. – Die raaisel om die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) se beweerde knoeiery by ’n paar opwarmwedstryde voor 2010 se Wêreldbeker-toernooi het verdiep.
Safa sou gister in Durban ’n nuuskonferensie hou oor die Internasionale Sokkerfederasie (Fifa) se ondersoek, maar dit is weens “onvoorsiene omstandighede” gekanselleer.
City Press het gister berig dat Safa skarrel om te verhinder dat hy nie deur Fifa uit internasionale sokker geskors word nie.
Dit volg nadat Fifa ’n lywige verslag saamgestel het nadat hy ondersoek ingestel het na die beweerde wedstrydknoeiery.
Die verslag dui glo daarop dat opwarmstryde teen Thailand, Bulgarye, Colombia, Guatemala en Denemarke vir weddenskap-doeleindes beïnvloed is deur Bafana se posisie op die internasionale ranglys te verbeter.
City Press sê as Safa op grond van daardie bewyse skuldig bevind word, kan Suid-Afrika tot die sokkerwoestyn verban word.
Safa het verlede Maandag sy president, Kirsten Nematandani, en vier ander lede, Dennis Mumble, Adeel Carelse, Lindile Kika en Barney Kujane, op spesiale verlof gestuur hangende die uitslag van die ondersoek.
’n Voormalige uitvoerende hoof, Leslie Sedibe, die voormalige skeidsregtersbaas Steve Goddard, gewese afrigter Pitso Mosimane en gewese spanbestuurder Sipho Nkumane se name word glo ook in die verslag vervat.
Op die veld het die vreugdevure darem hoog gebrand ná Bafana Bafana se sege van 3-1 oor Malawi in ’n vriendskaplike wedstryd Saterdag in die Moses Mabhida-stadion in Durban.
Die Bafana Bafana-breier, Gordon Igesund, het heelwat lof en ook ’n tikkie kritiek gehad vir die wyse waarop sy spelers die besoekers afgeransel het.
Hy het gister geen doekies omgedraai nie en gesê die fokus verskuif na die oefenkamp waar ’n vergrote groep van 32 spelers van Woensdag af in Johannesburg saamtrek.
Igesund maak op 30 Desember sy groep van 23 spelers vir die Afrikabeker-toernooi bekend en het gewaarsku dat hy in die volgende paar dae die koring van die kaf gaan skei.
“(Ayanda) Patosi, (Thulani) Serero, Katlego Mphela en die ander spelers moet my almal oor daardie drie dae oortuig dat hulle in die Afrikabeker-toernooi kan speel,” het Igesund gesê.