KAAPSTAD. – Een vir jou. En een vir my. Dié keer is dit die gillende Maria Sharapova wat op haar baadjie gekry het.
Die 22-jarige Duitser Sabine Lisicki het gister op Wimbledon vergoed vir haar halfeind-nederlaag van verlede jaar teen einste Sharapova toe sy dié Rus in die vierde ronde in skoon stelle met 6-4, 6-3 getroef het.
Daarmee het sy die eerste gekeurde vrouespeler in vanjaar se tennistoernooi in Londen ’n kans op ’n tweede Wimbledon-enkelspeltitel ontsê.
Sharapova het vanjaar weer bestendig gespeel. Maar toe loop sy haar vas teen ’n Duitser, wat straks vir ’n jaar al wraakgedagtes koester.
Lisicki het verlede jaar op Wimbledon die eerste Duitse vrou sedert Steffi Graf in 1999 geword wat tot die halfeindronde van Wimbledon deurdring.
Maar Sharapova het haar verdere aspirasies by die All England Lawn Tennis and Croquet Club toe met ’n oorwinning van 6-4, 6-3 gekortwiek – presies dieselfde telling waarmee Lisicki gister daarvoor vergoed het.
Reuters berig dat sy Sharapova vroeg in die eerste stel al op die agtervoet gehad het.
Die Franse Ope-kampioen het ’n legio ongedwonge foute gemaak. Lisicki het haar greep op die wedstryd enduit behou – ondanks die gilletjies wat Sharapova so gul met elke hou uiter.
Lisicki het Bojana Jovanovski, haar teenstander in die tweede ronde, hoeka tydens hul wedstryd by die skeidsregter verkla omdat sy nie te midde van haar skreëry kan konsentreer nie.
Lisicki het die eerste stel in daardie wedstryd met 3-6 verloor, maar die daaropvolgende twee met 6-2, 8-6 gewen.
Sy het na dese gesê sy het haarself ingevolge die “steurnisreël” tot die skeidsregter gewend en eindelik deur die “klankgrens” gespeel.
Dít het haar straks gepantser vir die wedstryd teen Sharapova – wyd geliefd vir haar elegante tennis, maar syd veroordeel vir haar gillery.
Lisicki kom in die kwarteindronde te staan teen haar landgenoot Angelique Kerber, wat Kim Clijsters (België) met 6-1, 6-1 afgeransel het.
In nóg ’n wedstryd het Serena Williams met rukke en stote, maar darem, vir die kwarteindronde gekwalifiseer toe sy Yaroslava Shvedova van Kazakstan met 6-1, 2-6, 7-5 geklop het.
Williams (VSA) speel volgende teen die verdedigende kampioen, Petra Kvitova van die Tsjeggiese Republiek.
Die sesmalige Wimbledon-manskampioen Roger Federer het deurgedring tot ’n 33ste agtereenvolgende Grand Slam-kwarteindronde (’n rekordtal) toe hy die Belg Xavier Malisse met 7-6(7/1), 6-1, 4-6, 6-3 geklop het.
Nadat Federer die eerste twee stelle gewen het, het hy so amper sy goeie begin ongedaan gemaak.
Malisse het die derde stel gewen, waarna Federer die baan vir ’n wyle verlaat het – dit is onduidelik waarom of waarvoor.
Toe spel in die vierde stel hervat is, het die Switser die eerste twee potte verloor.
Federer het egter ’n rustiger taktiese wedstryd begin speel, waarvoor Malisse geen antwoorde gehad het nie.
Sy sege was eindelik ’n maklike een.
Spel is gister verskeie kere deur reënbuie onderbreek en nóg reën word vir die komende dae voorspel.
Die Burger