JOHANNESBURG. – As die Proteas in Durban gewys het sy boul-spens is propvol, het die Suid-Afrikaners dit gisteraand in Oos-Londen duidelik gemaak dat sy kolf-voorraadkas óók behoorlik uit sy nate bars.
Die tuisspan het ’n stewige 165/5 aangeteken in die tweede van drie T20-kragmetings in die krieketreeks teen Nieu-Seeland.
Faf du Plessis, die Proteas se blitskaptein, het – soos in Vrydagaand se eerste wedstryd op Kingsmead – wéér van voor gelei met die kolf.
Dié 28-jarige Pretorianer het 63 lopies (van net 43 balle) gemoker, waaronder 8 viere en ’n reuse-ses.
Hy is uitstekend bygestaan deur Henry Davids (55 van 38) en David Miller (33 van 18) nadat dié beurt met ’n boulbeurt verkort is weens ’n onverskoonbare kragonderbreking op Buffalopark.
Du Plessis het skaars twee dae vroeër ’n onoorwonne 38 aangeteken om die Suid-Afrikaners oor die wenstreep – en tot ’n reeksvoorsprong van 1-0 – te help.
Die tuisspan het dié kragmeting op ’n drafstap met 8 paaltjies beklink nadat sy boulers amok gemaak en die Kiwi’s vir ’n skamele 86 uitgeknikker het.
Quinton de Kock, wat in Durban sy buiging met ’n flink 28* gevier het, het gisteraand nie eens kolfkans gekry nie.
Davids se vennootskap van 68 lopies om die tweede paaltjie met Du Plessis het die momentum teruggeswaai in die Proteas se guns nadat Richard Levi die tweede keer in soveel beurte goedkoop uit is.
Dié bonkige Kapenaar se spelpeil in die plaaslike blits- en kitsreeks was dié seisoen voortreflik, tog kon hy wéér nie op die internasionale verhoog die mas opkom nie.
Levi het die krieketwêreld in Februarie laat regop sit met sy onoorwonne rekordbeurt van 117, teen die einste Swartpette in Hamilton.
Maar hy het sy nulletjie op Kingsmead gister met ’n telling van 5 opgevolg.
Sedert sy honderdtal kon dié 24-jarige aanvangskolwer in 11 T20-beurte vir die nasionale span net 106 lopies aanteken, teen ’n karige gemiddeld van 10.60.
Die linksdraaier Aaron Phangiso is vroeër by die beginspan ingesluit in die plek van Chris Morris, wat Vrydag ’n dyspierbesering opgedoen het en ook die laaste stryd – in Port Elizabeth – sal misloop. Morné Morkel het ook tot die span teruggekeer ten koste van Dale Steyn, wat ’n ruskans gegun word.
Met die druktyd was Nieu-Seeland, wat 169 lopies vir ’n sege moet aanteken, op 54/0 ná 7 beurte.