DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

SA slaan terug, al wys Jonny sy staal

Deur: Christo Buchner 2012-08-18 07:00
LONDEN. – Wie is die Kevin waarvan julle so praat?

Dít kon gister hier op Lord’s die vraag gewees het wat Jonny Bairstow gestel het. Hy het Kevin Pietersen in die derde kriekettoets hier op Lord’s teen Suid-Afrika vervang en was op die tweede dag die Engelse se kolfheld.

Danksy hom kolf sy span vanoggend voort op 208/5, steeds ’n agterstand van 101 lopies.

As daar geweldige druk op dié 27-jarige kolwer van York­shire was toe hy kom kolf het, het hy dit nie gewys nie.

Nie net het hy in die mees omstrede omstandighede in die span beland nie, maar hy het gaan kolf met sy span op 54/4.

Dít nadat Suid-Afrika 309 in sy eerste beurt behaal het.

Dit het Bairstow (72*, 213 minute, 137 balle, 9x4) 13 balle geneem om sy rekening te open, waarna hy en Ian Bell (58, 211 m, 157 b, 7x4) die beurt steen vir steen herbou het met ’n puik vennootskap van 124 lopies om die vyfde paaltjie.

Soos wat die geval met die Suid-Afrikaners was, het Engeland op 54/4 deur glaserige oë na die wêreld gestaar.

Net voor ete het Morné Morkel (2/53) die Engelse kaptein, Andrew Strauss (20), die agtste keer in 11 toetse uitgehaal deur hom te boul.

Kort ná ete is nog vinnige slae geslaan, met Dale Steyn (2/48) wat eers vir Jonathan Trott (8) been voor paaltjie betrap het.

Alastair Cook (7) het toe na sy aflewering wyd buite die wegpen gedryf waarna Jacques Kallis ’n skerp vangskoot in die glippe benut het.

Trott is aanvanklik nie uitgegee nie deur Kumar Dharmasena, maar die Suid-Afrikaners het dit verwys en die Sri Lankaan moes sy fout regmaak.

Van die laaste 31 balle wat hy ontvang het, het Cook net 1 lopie aangeteken.

Toe James Taylor (10) boonop Morkel se tweede slagoffer geword het nadat Smith hom uitgevang het, was daar pêrre.

In wat soos ’n ewigheid daarna vir die Suid-Afrikaners moes gevoel het, het hulle eers weer laatmiddag sukses geproe toe Bell ook in die glippe gevang is.

Teen daardie tyd het hy en Bairstow, wat maar sy vierde toets speel en wie se vorige hoogste telling slegs 18 was, baie van die aanvanklike skade herstel.

Vroeër het Suid-Afrika danksy Vernon Philander (61, 189 m, 93 b, 6x4) by die 300-kerf uitgekom wat sy span as teiken gestel het. 

Die Burger
«Terug