DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Adriaan en Coenie bly langer by Vrystaat

Deur: Jóhann Thormählen 2012-08-07 06:35
BLOEMFONTEIN. – Die Vrystaat het dalk een van sy voorrymanne verloor, maar die vernaamste twee sal vir nog twee jaar hier in die skrum sak.

Die Springbok-haker Adriaan Strauss en -stut Coenie Oosthuizen het ondanks groot aanbiedinge elders in Suid-Afrika én oorsee besluit om langer vir die Cheetahs uit te draf.

Albei Bokke se Vrystaat-kontrakte maak einde Oktober klaar en volgens Naka Drotské, die Vrystaat se afrigter, sal hulle nou tot 2014 hul rugby in die Rosestad speel.

Vrystaat-ondersteuners sal behoorlik hieroor glimlag, aangesien Strauss-hulle vanweë hul hoë markwaarde feitlik kon kies waar hulle wou speel.

Die vangs van twee van die Vrystaat se grootste visse volg nadat die vaskopstut WP Nel hom onlangs by die Skotse klubspan Edinburgh aangesluit het.

Die 26-jarige Strauss was in vanjaar se toetsreeks teen Engeland die Bokke se naasvoorste haker, terwyl die 23-jarige Oosthuizen waarskynlik die land se belowendste jong stut is.

Oosthuizen het sy toetsbuiging as plaasvervanger in die eerste toets teen die Rose gemaak, waarna hy hom weens ’n nekbesering moes onttrek. Hy behoort oor sowat ’n maand hier in die Curriebeker-reeks teen die Westelike Provinsie tot die span terug te keer.

Strauss is Saterdag in die Bokke se groep vir 2012 se Rugby-kampioenskap ingesluit.

Verder is die Bok-haker, met 12 toetse agter sy naam, ook die Cheetahs se kaptein en is sy leierskap van groot waarde vir ’n span wat dikwels van jong spelers wemel.

Drotské is vanweë Oosthuizen en Strauss se hoë profiel verlig die strydrosse het by die Vrystaat pen op papier gesit. “Albei van hulle is internasionale spelers en Adriaan nog boonop ons kaptein.

“Albei het nog ’n groot toekoms voor hulle,” het Drotské gesê.

Hy meen ook hul beskikbaarheid is ’n groot hupstoot vir die Cheetahs se aanslag in die Super-reeks. “Hul (Strauss en Oosthuizen) besluit om te bly wys ook ons behou bestendigheid in die volgende paar seisoene.

“Ons het vanjaar ons beste seisoen in Super-rugby beleef en wil graag volgende jaar die uitspeelrondes haal. Daarom is dit beslis goeie nuus dat hulle bly.”

Drotské sal vanweë sy Bok-verpligtinge reeds die naweek sonder Strauss in sy eerste Curriebeker-wedstryd, teen die Leeus in Johannesburg, moet klaarkom.

Strauss was nog Saterdag hier vir die Vrystaters in die feeswedstryd teen die Walliese klubspan Cardiff Blues in aksie.
 
«Terug