KAAPSTAD. – Die Rugby-kampioenskap het nog nie eers begin nie en die Springbokke gaan reeds gebuk onder ’n beseringskrisis.
JP Pietersen, wat hom vanjaar as Suid-Afrika se voorste buiteagterspeler onderskei het, sal minstens die volgende ses weke op die krukkelys wees nadat hy ’n duim gebreek het in die Sharks se eindstryd teen die Chiefs in die Super-reeks.
Juan de Jongh het hom gister by die groep aangesluit en sal dus nie beskikbaar wees vir die Westelike Provinsie se Curriebeker-wedstryd teen die Haaie op Nuweland Saterdagaand nie.
Voorts sal die slot Eben Etzebeth vandag saam met die Bokke se dokter, Craig Roberts, na Johannesburg reis vir ’n skandering om die omvang van sy heupbesering te bepaal.
Die haker Chiliboy Ralepelle sukkel ook met ’n kniebesering en daar sal volgende week ’n besluit oor sy beskikbaarheid geneem word vir die toets teen Argentinië op Nuweland op 18 Augustus.
Die Springbok-afrigter, Heyneke Meyer, het gister selfs só ver gegaan as om Bakkies Botha se naam te noem as ’n speler wat hy kan nader trek indien Etzebeth nie fiks is nie, maar dis baie onwaarskynlik gegewe dat Flip van der Merwe in die groep is en hy ook vir Franco van der Merwe hoog aanslaan.
Botha is ook besig met Toulon se voorseisoense voorbereiding in Frankryk en die feit dat die Noordelike Halfrond se seisoen nog nie begin het nie is die groot rede waarom Meyer nie juis gretig was om spelers van daar te betrek nie.
Tiaan Liebenberg of Craig Burden kan straks as derde haker in die groep nader getrek word indien Ralepelle nie sy fiksheid betyds herwin nie.
“Ek is nogal senuweeagtig,” het Meyer gister gebieg.
“JP speel van die beste rugby van sy loopbaan en sy besering is vir ons ’n yslike terugslag. Dit maak egter die deur vir Lwazi Mvovo in die beginspan oop.”
Meyer het onthul dat Mvovo en Bryan Habana sy vleuels vir aanstaande Saterdag se toets sal wees.
“Die vraag is dan wie regtervleuel moet speel. Ons ontbreek goeie regtervleuels,” het Meyer gesê.
Gio Aplon sou maklik daar kon inskakel, maar Meyer het dit nodig geag om eerder ’n senter – De Jongh – te kies aangesien Pietersen ook buitesenter vir hom sou dek indien daar ’n besering in die middelveld was. Francois Hougaard word ook deur Meyer as ’n skrumskakel eerder as ’n vleuel beskou.
Volgens Meyer is hy bly vir De Jongh se onthalwe en het hy hom juis onlangs nog bemoedig om sy beste te bly gee.
Die Burger