DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Bokkies se halfeindlot wéér in ander hande

Deur: Marco Botha 2012-06-06 05:13

STELLENBOSCH. – Ná Suid-Afrika se skoknederlaag van 19-23 Maandag hier teen Ierland, is hy een van moontlik vyf rugbyspanne wat om ’n enkele plek in die halfeindronde van die Junior Wêreld-toernooi gaan meeding.

Dié toernooi vind tans hier en in Kaapstad plaas. Daar is drie groepe met vier spanne in elk. En die voorste span in elke groep vorder outomaties na die halfeindronde. Die beste naaswenner uit enige van die drie groepe kom vir die laaste plek in aanmerking.

Australië het die Bokke verlede jaar op grond van ’n beter punteverskil om daardie vierde plek verbygesteek.

Suid-Afrika speel vanjaar ongetwyfeld in die sterkste groep. Hoewel hy sy wedstryd Vrydag teen Italië by die Universiteit van die Wes-Kaapland met 5 ligapunte behoort te wen, sal dit nie noodwendig genoeg wees nie.

Die Bokke se daaropvolgende wedstryd is teen Engeland – die kampioenspan in vanjaar se o.20-Sesnasies-reeks. En daar moet baie dinge buite die Bokke se beheer gebeur om hul beker-aspirasies lewend te hou.

Veronderstel die Bokke klop die Italianers Vrydag ordentlik, móét hulle die Engelse daarna ook klop, verkieslik met ’n bonuspunt, en terselfdertyd hoop dat Engeland Vrydag oor die Iere seëvier.

Indien dit só uitwerk dat Suid-Afrika, Ierland en Engeland elk ’n wedstryd verloor, kan hulle die groepfase met dieselfde aantal ligapunte afsluit. Die kompetisie-reëls bepaal dan dat die span wat ’n ander geklop het bo hom moet lê.

Maar aangesien almal iewers vir ’n ander skade gemaak het, sal die tweede riglyn geld. Daarvolgens sal die beste punteverskil ingereken word. Derdens sal drieë vir en drieë teen ingereken word.

Daarom is Vrydag se wedstryd teen Italië so belangrik.

Engeland het hom Maandag met 64-5 geklop. Suid-Afrika moet bes moontlik vir 100 mik.

Nieu-Seeland (GroepA) en Australië (B) behoort hul groepe op ’n drafstap en met 15 punte te wen.

In eersgenoemde behoort Wallis sy voltal-sege oor Fidji in sy laaste wedstryd teen Samoa op te volg en daarmee tweede te eindig.

Argentinië het sake in GroepB omgekrap toe hy die Franse Maandag geklop het.

Nóg ’n sege oor Skotland en ’n bonuspunt teen Australië kan die Suid-Amerikaners ook binne bereik van daardie vierde plek in die halfeindronde bring.

Die Burger
«Terug