KAAPSTAD. – So naby, maar tog so ver vir die Bulls.
In ’n wedstryd waarin hulle 70 minute lank voorgeloop het, het die Bulls gister in Hamilton konsentrasie op ’n kritieke tydstip verloor en die Chiefs toegelaat om hulle met 28-22 te klop.
Die bonuspunt vir dié nederlaag (soos teen die Highlanders verlede week) sal ’n skrale troos wees vir die besoekers, wat veral in die eerste helfte totaal in beheer en op pad na ’n sege was.
Toe was die telling 16-8, maar dinge het stadig maar seker begin uitrafel.
Nadat die Chiefs ná ’n vinnige lynstaaningooi Sonny Bill Williams in besit gestel het om die plaasvervanger-flank, Sam Cane, te voer, was dit die doodskoot vir die moedige Bulls.
Daar was nog sowat agt minute oor vir die manne in pienk om die toer te red en hoewel hulle voorlangs probeer deurbeur het, kon die Chiefs uithou om ’n goeie sege deur te trek.
Daar is vooraf verwag dat min die spanne sou skei.
In die eerste helfte het die Bulls met groot gemak hul rolmale laat werk en baie veld gewen, terwyl Morné Steyn die telbord aan die rol kon hou met sy akkurate voet.
Twee strafdoele en ’n skepdoel deur Steyn en ’n puik drie deur Bjorn Basson het die Bulls in beheer gehad met rustyd.
Basson het skitterend om sy teenstander, Leila Masaga, gekom en gaan druk. Die Chiefs was nie net in hul gebied vasgepen in dié helfte nie, hulle het ook nooit werklik agterlangs enige angel getoon nie.
Hul drie in die eerste helf- te was ná ’n blaps deur die uiters betroubare Akona Ndungane, wat nie ’n skop kon beheer nie, en die Chiefs kon deurskop en druk.
Dié eerstehelfte-poging het die Bulls getap en Frans Ludeke is vroeg gedwing om sy plaasvervangersbank te benut.
Dit het nie gekeer dat die tuisspan toenemend die bal wyer kon rek nie.
Van een só ’n beweging is die Chiefs se vleuel Asaeli Tikoirotuma deurgejaag, maar die obstruksie wat sy gaping veroorsaak het, is nie deur die skeidsregter, Mark Lawrence, en sy assistente raakgesien nie.
Tussendeur het Steyn en sy eweknie, Aaron Cruden, om die beurt die voorsprong bewerkstellig.
Die finale punte, deur Cane, en Cruden se daaropvolgende doelskop, was te veel vir die Bulls om in te haal.
Puntemakers:
Chiefs 28 (8): Drieë:Andrew Horrell, Aseali Tikoirotuma, Sam Cane.Doelskoppe: Aaron Cruden (2). Strafdoele: Cruden (3).
Bulls 22 (16): Drie: Bjorn Basson. Doelskop: Morné Steyn. Skepdoel: Steyn. Strafdoele: Steyn (4).
Rugby op TV Vandag
07:30: Super-reeks: Hurricanes t. Rebels (GDN, SS1, SHD).
09:35: Blues t. Highlanders (M-Net, SS1, SHD).
11:40: Brumbies t. Reds (M-Net, SS1, SHD).
13:40: Force t. Lions (M-Net, SS1, SHD).
16:00: Engelse Premierliga-eindstryd: Leicester t. Harlequins (GDN, SS7).
17:05: Super-reeks: Cheetahs t. Waratahs (M-Net, SS1, SHD).
19:10: Sharks t. Stormers (M-Net, SS1, SHD).
Môre
15:30: Vriendskaplike wedstryd: Engeland t. Barbarians (SS1).
Die Burger