KAAPSTAD. – Die Stormers sal teen Vrydagaand weet wat hulle te doen staan om bo-aan die Suid-Afrikaanse groep in die Super-rugbyreeks te eindig.
Hoewel die Bulls steeds ’n buitekans het om die Stormers verby te steek – en sodoende outomaties ’n tuiswedstryd in die uitkloprondes te verseker – gaan dít lol met ’n moeilike stryd teen die Sharks Vrydagaand.
Die Stormers is, met twee wedstryde oor, vier punte voor die Bulls en die Pretorianers sal vyf ligapunte moet insamel om seker te wees dat hulle die Stormers vir minstens ’n dag verbysteek.
As die Stormers slegs ’n enkele ligapunt in Saterdag se wedstryd teen die Cheetahs insamel, sal hulle ongeag die uitslag van Vrydagaand se wedstryd dié naweek as Suid-Afrika se voorste span afsluit.
Die Stormers (12) spog met meer seges as die Bulls (9) en “wedstryde gewen” is die eerste kriterium waarna gekyk word wanneer spanne ewe veel ligapunte het.
Die Stormers se laaste ligawedstryd aanstaande week is teen die Melbourne Rebels, terwyl die Bulls en Sharks onderskeidelik teen die Lions en Cheetahs speel.
Verloor die Bulls Vrydagaand, sal ’n sege oor die Cheetahs of Rebels die Stormers van ’n eerste plek in die SA groep verseker.
Selfs al speel die Bulls en Sharks gelykop, hoef die Stormers net een keer te wen sonder om ’n bonuspunt in te samel.
Die Stormers sal egter mik na volpunte in hul laaste wedstryde, want die twee groepwenners met die meeste punte word met ’n loslootjie beloon, dring reguit deur tot die halfeindronde én speel tuis.
Die Kapenaars kan selfs bo-aan die algehele puntelys eindig, want die Chiefs, wat vier punte bo hulle op die puntelys is, moet nog dié week teen die Crusaders en aanstaande week teen die Hurricanes speel.
Hul taak word bemoeilik deur die Crusaders wat nog nie seker is van ’n plek in die uitspeelwedstryde nie.
“Die manier waarop ek daarna kyk, is dat ons net die volgende twee wedstryde moet wen,” het die Stormers se afrigter, Allister Coetzee, gister gesê.
Intussen het die voortgesette onsekerheid oor Nick Koster, Schalk Burger en Duane Vermeulen se fiksheid die Stormers genoop om by Sanzar toestemming te vra dat die Kanadees Jebb Sinclair in die uitspeelrondes mag speel.
Daar is nog hoop vir Vermeulen om ’n rol te kan speel, maar Burger en Koster het albei beenkneusing in hul beseerde knieë. Coetzee is dus nie seker of hulle in die volgende wedstryde kan speel nie.
Ingevolge die reeks se reëls sal Sinclair nie in die uitspeelrondes mag speel nie, omdat hy eers ná 1 April deur die Stormers geregistreer is.
Daar word wel vir noodgevalle voorsiening gemaak.
Benewens Burger, Koster en Vermeulen, is Nizaam Carr en die Matie Tertius Daniller die ander losvoorspelers op die Stormers se krukkelys.
Die Burger