DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Grant voor toets

Deur: Stephen Nell 2012-06-01 06:00
KAAPSTAD. – Die Stormers se agterlynafrigter, Robbie Fleck, het Peter Grant gister uitgedaag om sy skopstewel môre-aand in die Super-rugbywedstryd teen die Bulls op Loftus Versfeld te laat geld.

Grant is die reeks se voorste skerpskutter pale toe, maar Fleck meen die Kapenaars se losskakel sal sy taktiese skopwerk moet opskerp indien hy in die toekoms met die Bulls se Morné Steyn om die Springbokke se nr.?10-trui wil meeding.

“As Bash (Grant) op ’n ­hoër vlak sukses wil smaak, sal sy taktiese skopwerk op dieselfde standaard as Morné s’n móét wees,” het Fleck gesê.

Grant kry juis in Pretoria ’n gulde geleentheid om hom teen Steyn te meet.

Die Bulls se voorslag-losskakel behoort aanstaande week Suid-Afrika se nr. 10-trui te dra, maar Grant het self groot ambisies nadat hy vroeër vandeesweek deel was van die groep van 42 vir die Bokke se laaste beplanningskamp in Durban.

Daar sal egter op meer as net Grant se stewel staatgemaak moet word en in daardie opsig is Joe Pietersen se besering dalk ’n groter slag as Andries Bekker s’n.

“Ons het verlede week duidelik Joe se skopwerk teen die Sharks gemis. Bash het goed gevaar, maar die stryd op sy eie gevoer. Hy sal ondersteuning by Dewaldt Duvenage en Gio Aplon móét kry,” het Fleck gesê.

Aplon self sal sy hande vol hê met al die lugskoppe wat sy kant toe gestuur behoort te word.

Dis ’n tydbeproefde resep waarmee die Bulls druk bou en daar is geen beter man as Bjorn Basson van die Bulls om die bal uit die lug te pluk nie.

Grant self besef hóé groot die uitdaging teen Steyn en die Bulls gaan wees.

“Ek bekommer my eerder oor die opponerende losvoorspelers as my regstreekse teenstander, maar dit gaan nóg ’n groot skopstryd op Loftus wees.

“Daar gaan baie geskop word. Dit sal ’n goeie stryd wees met Morné en Zane Kirchner aan hulle kant, en my en Gio aan die ander,” het Grant gesê.

Grant het benadruk dat die Stormers nie kan bekostig om hulself jammer te kry oor al die beserings nie.

Bekker, Schalk Burger en Duane Vermeulen sou waarskynlik almal aanstaande week in die Bokke se beginspan gewees het indien hulle fiks was. Die Stormers is óók sonder Steven Kitshoff op loskopstut en Pietersen in die laaste vesting.

“Die span het al vir Schalk verloor toe ek uit Japan hier aangekom het. Daar is soveel jong manne wat al goeie werk verrig het,” het Grant gesê.

“Dis goed om Deon Carstens as loskopstut te hê, want hy bring waardevolle ervaring na só ’n groot wedstryd.

“Om vir Andries te verloor is ’n groot slag, maar De Kock Steenkamp was uitstekend toe hy teen die Reds begin het. Ons sal maar net positief op die terugslae moet reageer.”

Grant het die belangrikheid van akkuraatheid in uitvoering beklemtoon.

“Dit het in ons nederlaag teen die Sharks op ’n wip van die bal en kritieke foute neergekom. Ons moet daardie foute uitsny en geleenthede aangryp. Dis belangrik dat ons gedissiplineerd is en ons speelwerk in die Bulls se gebied doen.”

Die Burger
«Terug