PORT ELIZABETH. – Ekskop. Eksystap. Eksuiker. Ekstorm. Ekskuus voor: Ek is Eksteen.
Daar was nog selde ’n meer konkrete antwoord op William Shakespeare se vraag “what is in a name?” as dít.
Ryno Eksteen, witwarm- losskakel van die Blou Bulle se Cravenweek-rugbyspan, het gister hier in die Nelson Mandelabaai-stadion, ’n ongelooflik afgeronde en veelsydige vertoning teen die Pumas gelewer.
Sy skoppe, systappe, afwisseling en lees van die spel was voortreflik. En dié kêrel, wat aanstaande jaar vir die WP uitdraf, is een van die hoofredes waarom die Bulle môre in die hoofwedstryd van die 49ste Cravenweek vir hoërskole speel.
Die Bulle het die Pumas met 36-10 (rustyd 24-3) getroef. Eksteen het met vier doelskoppe, een strafdoel en ’n drie 16 van daardie punte aangeteken.
Hy is plek-plek nog rou, maar is geensins skrikkerig om avontuurlustig te wees nie. Hy en sy makkers is sover die uitsoekspan op dié Cravenweek. Hulle het die WP Dinsdag ’n drag slae van 47-27 gegee en gister daarop voortgebou.
Hulle?speel?môre teen die Goue Leeus – etlike ure voor die Super-derby op Loftus Versfeld tussen die Bulls en Lions.
Die Bulle was soms te voortvarend. Hulle het hoogs talentvolle spelers, en ’n mens kan die geneigdheid om net met die bal te hardloop, verstaan én waardeer. Maar die Leeus is meer gestruktureerd en sal die Bulle toets waar daar met beter verdediging minder hardloopruimte is.
Hier kom ’n “eindstryd”!
• Die WP het so hittete sy tweede nederlaag van die jaar teen die SWD se Jong Arende gely, maar eindelik met 39-33 gewen – grootliks danksy drie drieë tussen die 53ste en 63ste minuut.
Die Arende was erg hardekwas, met hul agtsteman, Jeandré Rudolph, en losskakel, Dewald Human, die groot sterre.
Die WP-heelagter, Jason Worrall, het sy span in die wedstryd gehou. Dié kêrel kan in senior rugby ’n baie nuttige binnesenter wees. Skryf sy naam maar neer.
• Jasper Wiese, agtsteman van Griekwas-platteland, het die eerste speler geword wat vanjaar ’n driekuns aan drieë behaal in sy span se sege van 38-5 oor Grens-platteland.
• Marcel Scholtz, knap heelagter van Limpopo, het 15 punte aangeteken in sy span se reuse-sege van 68-21 oor Zimbabwe.
• Die OP-platteland het die Griffons amper met ’n groot terugvegpoging?gefnuik.?Die Noord-Vrystaters het die aanskoulikste wedstryd van die dag met 33-28 (rustyd 19-6) gewen.
• Môre se wedstryde: STADION: 09:10: SWD t. Boland. 10:40: WP t. Pumas. 12:10: OP t. KZN. 13:40: Blou Bulle t. Leeus. B-VELD: 09:10: Griffons t. Griekwas-Pl. 10:40: Grens t. Limpopo. 12:10: Valke t. Vrystaat. C-VELD: 09:10: OP-platteland t. Luiperds. 10:40: Zimbabwe t. Namibië. 12:10: Griekwas t. Grens-platteland.
Die Burger