DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Victor kies Juandré

Deur: Gerdie Karstens 2012-06-01 06:00
KIMBERLEY. – Die Bulls-slot Juandré Kruger is sy eerste keuse om die beseerde Andries Bekker se plek in die Springbok-span vir die toetsreeks vandeesmaand teen Engeland vol te staan.

Só het die gewese Bok-slot en lynstaan-ghoeroe Victor Matfield gesê oor wie hy glo die beste plaasvervanger sal wees om die nr.5-trui oor die kop te trek.

Die Stormers het Woensdag bevestig dat Bekker se lae rug weer probleme gee en dat hy vir minstens vyf weke sake van die kantlyn sal dophou.

Dit beteken dat die Springbok-afrigter, Heyneke Meyer, hom nie vir die reeks teen Engeland kan oorweeg nie.

Dis dalk ’n brokkie nuus waaraan Meyer swaar sluk, maar Matfield glo dat, gemeet aan sy huidige spelpeil, Kruger die beste keuse is om die Engelse in dié sleutel-posisie aan te durf.

Dit sal nie verbaas as Meyer dalk die gesoute Johann Muller (Ulster) gebel het nie. Met 24 toetse op sy kerfstok, is hy beslis ook ’n opsie om vir die Bokke teen Engeland diens te doen.

Die Bok-breier kan in ’n uiterste geval ook vir Anton Bresler (Sharks) of Wilhelm Steenkamp (Bulls) oorweeg.

“Andries se besering is ’n groot slag vir die Springbokke, want hy het baie ervaring. Ons is steeds gelukkig om iemand soos Juandré beskikbaar te hê,” het Matfield gister gesê.

“As ’n mens na die Bulls se statistieke in die Super-reeks gaan kyk, staan hy (Kruger) voor in die ry om ingesluit te word. Hy staan veral met sy lynstaanspel kop en skouers uit bo die res. Hy sal my keuse as nr.5-slot wees.”

Matfield glo lynstaanspel is die één afdeling waar die Springbokke die besoekers kan teiken.

Daar is genoeg te kus en te keur van wie Kruger se slotmaat teen die Engelse moet wees, met veral Eben Etzebeth (Stormers) en die Bulls se Flip van der Merwe wat Matfield beïndruk het. “Dan is daar ook iemand soos die Lions se Franco van der Merwe.”

Die Burger
«Terug