KAAPSTAD. – Die Springbok-voorry word vandag getoets deur ’n speler wat goed met Nuweland en Suid-Afrikaanse rugby vertroud is.
Die Argentynse haker Eusebio Guinazu het in 2010 sewe wedstryde as plaasvervanger-stut – op loskop én vaskop – vir die Stormers gespeel.
Hy het daardie seisoen ’n Boland-kontrak gehad en het 12 wedstryde vir die Kavaliers vaskop gespeel.
“Ons het hom as derde haker op toer geneem,” het die Stormers se voorspeler-afrigter, Matt Proudfoot, gesê toe hy vandeesweek oor Guinazu se betrokkenheid twee seisoene gelede uitgevra is.
“Ek dink die Poemas kies hom op haker as teenvoeter vir Bismarck du Plessis. Hulle soek stabiliteit daar nadat hulle ’n pak in die skrums by Frankryk gekry het. Guinazu is ’n goeie skrumwerker.”
Die Burger