DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Pollard ís toe reeds ’n Blou Bul

Deur: Stephen Nell 2012-07-03 04:00

KAAPSTAD. – En toe ís jong Handré Pollard reeds ’n Bul.

Soos Sport24 reeds op 20 Junie berig het, het die Blou Bulle Maatskappy (BBM) gister bevestig dat die kaptein van die Westelike Provinsie se Cravenweek-span en uitblinker in die Jong Bokkies se ver­owering van die Internasionale Rugbyraad se Junior Wêreldtoernooi, aan die einde van dié seisoen op pad na Pretoria sal wees.

Die transaksie tussen die Bulle en Pollard is reeds verlede jaar beklink.

Die Westelike Provinsie het Sport24 se berig oor die skuif verlede maand in ’n nuusverklaring as “snert” afgemaak.

So ook dat hulle ná vroeëre berigte oor die kwessie geskarrel het om Pollard se handtekening te bekom.

Pollard se pa, André, het aanvanklike berigte oor die kwessie in die openbaar ontken.

“WP Rugby neem mnr. Pollard sr. op sy woord en sien daarna uit om verder in goeder trou te onderhandel om die dienste van Pollard jr. in sy tuisprovinsie te behou. Die proses het in 2010 begin,” het die WP toe in sy verklaring gesê.

Barend van Graan, uitvoerende hoof van die BBM, het gister gesê hulle het Pollard reeds twee jaar gelede geïdentifiseer as ’n speler wat hulle na Loftus wil lok.

“Ons het deur ons talent-identifisering die proses begin om hom te oorreed om ná skool Blou Bulle toe te kom. Dit was nadat Handré in die Grant Khomo-week vir o.16-spelers gespeel het,” het Van Graan gesê.

“Sy temperament, volwassenheid in algemene spel en besluitneming het ons toe beïndruk. Handré se vertoning gedurende die Junior Wêreldtoernooi het daardie potensiaal bevestig en ons is opgewonde dat ons hom later vanjaar by ons sal hê.”

Rob Wagner, besturende direkteur van WP Rugby (Edms.) Bpk., het gister op ’n versoek vir kommentaar in ’n SMS laat weet dat daar môre ’n omvattende verklaring uitgereik sal word oor die WP se onderhandelings wat in Augustus 2010 begin het.

Die Burger
«Terug