DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Rose ‘moet wen’ om asem te haal

Deur: Christo Buchner 2012-06-15 00:00
JOHANNESBURG. – Toby Flood se tyd het aangebreek.

Met dié woorde het Stuart Lancaster, die Engelse rugby-afrigter, sy vertroue in Flood bevestig nadat hy op sy knoppie gedruk het as een van die spelers wat moet help om die Springbokke môre hier in die tweede toets te kelder.

Die 26-jarige Flood is die enigste lid van die span wat in 2007 in twee toetse in Pretoria en Bloemfontein met meer as 50 punte verloor het.

“Ek reken as ons hulle kan keer om dié keer 50 punte aan te teken, sal dit vir my ’n groot verbetering wees,” het Flood gister hier in Sandton by die spanhotel met ’n glimlag gesê.

Hy het die grootste deel van die onlangse Sesnasiesreeks misgeloop weens beserings en sê sy benadering sal wees om die wedstryd te geniet.

Lancaster glo Flood kan ’n belangrike aanvalswapen wees, want hy speel vlak en skroom nie om die voordeellyn aan te val nie.

“Ons sal meer moet aanval. Hierdie is ’n wedstryd wat ons móét wen om nog asem te haal in die reeks.

“Hy skop takties goed en skroom nie om onder teenstanders in te seil nie. Dít gaan baie nodig wees teen die Springbok-aanvalle,” het Lancaster gesê.

“Die eerste toets was soos ’n skaak-stryd en ek glo daar sal meer aangeval word in hierdie een. Dit sal belangrik wees om deur die eerste 20 minute te kom wat die lugdruk betref,” sê Flood.

“Die Springbokke sal die lewe uit ons probeer wurg en sal baie van taktiese skopwerk gebruik maak. Ons moet dit neutraliseer en druk van ons eie op hulle plaas,” het Flood gesê.

Hy glo ook Manusamoa Tuilagi op binnesenter gaan ’n veel groter invloed hê as wat die geval in Durban was.

Tuilagi se nuwe sentermaat, Jonathan Joseph, wat sy debuut maak, sê hy besef dit kon nie moeiliker wees as in die tradisionele tuiste van Springbok-rugby nie.

“Ek moet ook sterk staan op die verdediging en sien uit na die kans om hulle (Bokke) te smash,” het die 21-jarige Joseph gesê.
Die Burger
«Terug