DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Schalk res van jaar op krukke

Deur: Stephen Nell 2012-08-07 06:00
KAAPSTAD. – Schalk Burger sal nie vanjaar weer rugby speel nie.

Die Westelike Provinsie se afrigter, Allister Coetzee, het gister bevestig dat die Springbok-flank onbepaald op die krukkelys sal wees met die kniebesering wat hy vroeër vanjaar in die Stormers se Super-wedstryd teen die Hurri­canes opgedoen het.

“Dis vir Schalk ’n hengse frustrasie. Ons moes sy rehabilitasie heeltemal stop, want hy het bloot nie vordering gemaak nie. Hy het verlede week ’n spesialis geraadpleeg. Ons sal nou die verslag bestudeer om oor die pad vorentoe te besluit,” het Coetzee gister gesê.

“Daar is ’n moontlikheid dat hy die knie weer sal moet laat skoonmaak. Die ander opsie is vir hom om net te rus sodat die besering hopelik vanself genees.

“Ek dink nie hy sal dié jaar weer speel nie, maar sê dit sonder dat ek die spesialis se verslag bestudeer het.”

Die WP-breier het bygevoeg dat dit voortydig sal wees om nou reeds daaraan te dink om ’n bykomende losvoorspeler te kontrakteer met die oog op aanstaande jaar se Super-reeks.

“Laat ons eers die verslag lees en op ’n plan van aksie besluit. As dit nie werk nie, kan ons dit oorweeg.”

Coetzee het darem gister ook goeie nuus gehad oor Duane Vermeulen, wat aanstaande week moontlik vir die WP teen Griekwas in hul Curriebeker-wedstryd in Kimberley kan speel.

“Duane het weer saam met ons geoefen en dit het baie beter gegaan as in die sessie voor die halfeindstryd in die Super-reeks,” het Coetzee gesê.

“Sy dyspiere is aansienlik sterker en die knie swel nie op nie. Hy kan teen aanstaande week verkiesbaar wees. Die uitdaging is nou om sy fiksheidsvlakke op standaard te kry.”

Vermeulen sou die Springbok-afrigter, Heyneke Meyer, se eerste keuse as agtsteman gewees het indien hy fiks was vir die reeks teen Engeland. Hy het óók verlede jaar se Wêreldbeker-toernooi met ’n kniebesering misgeloop.

Coetzee het intussen daarin geslaag om die Kanadese losvoorspeler Jebb Sinclair en die losskakel Burton Francis se dienste vir die Curriebeker-reeks te behou.

Sinclair sal straks Saterdag teen die Haaie op Nuweland as agtsteman begin, met Rynhardt Elstadt wat waarskynlik as flank behou sal word, eerder as slot.

Coetzee het vir Hugo Kloppers, Reniel Hugo en Wilhelm van der Sluys as slotte by die WP se voorbereiding betrek.

Dit lyk asof De Kock Steenkamp as nr.4-slot kan begin, met Kloppers, Hugo en Van der Sluys wat goeie lynstaanopsies op nr. 5 bied.
 

Duane Vermeulen

Die Burger
«Terug