DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Sharks dun, al is Steyn terug

Deur: Christo Buchner 2012-07-03 04:00
JOHANNESBURG. – Frans Steyn kan Vrydagaand vir die Sharks in hul Super-rugbywedstryd teen die Bulls terugkeer.

Of hy Patrick Lambie op Kingspark in Durban aan sy binnekant as losskakel sal hê, is nie so seker nie.

Daar hang ’n donker beseringswolk oor dié jong Springbok, asook die staatmaker-flank Willem Alberts.

Lambie het sy enkel beseer in die tweede toets in Johannesburg, terwyl Alberts knieligamente beseer het.

Albei het die laaste toets teen Engeland misgeloop en daar sal eers later vandeesweek besluit word of hulle vir die reg-of-weg-stryd teen die Bulls beskikbaar sal wees.

Dan is daar ook nog die dyspier wat Paul Jordaan beseer het vir die Jong Bokkies in die Junior Wêreldtoernooi in die Kaap, wat hom ook langs die kantlyn kan hou.

Die prentjie lyk in die geheel maar donker vir die Sharks, wat met ’n bonuspunt móét wen om hul aanspraak op ’n plek in die uitspeelronde van die Super-reeks te behou.

Daar sal ook eers later in die week sekerheid wees of Steven Sykes en Jacques Botes, wat nie een weens beserings in John Smit se afskeidswedstryd kon speel nie, oorweeg kan word.

Steyn is van 1 Julie weer ’n gekontrakteerde Shark en mag dadelik ingespan word.

Hy sal uitsluitlik as binnesenter oorweeg word, met Tim Whitehead of Meyer Bosman wat aan sy buitekant sal wees.

Frederic Michalak oefen ook weer saam met die Sharks, hoewel hy nou al eintlik by sy nuwe Franse klub, Toulon, moes ingeval het.

As Lambie nie reg is nie, sal Michalak weer die nr. 10-trui dra.

Die slot Ross Skeate het intussen sy tasse gepak en is reeds onderweg na sy Franse klub, Agen, met wie hy ’n kontrak van twee jaar onderteken het.
  Die Burger
«Terug