DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Skouer aan wiel vir SA

Deur: Stephen Nell 2012-06-24 22:25

PORT ELIZABETH. – Met die Rugbykampioenskap net om die draai, is Suid-Afrika ver agter Nieu-Seeland en Australië, glo die Springbok-afrigter, Heyneke Meyer.

“Ek het altyd geweet die eerste jaar sal ’n taaie wees,” het Meyer ná Saterdag se gelykop-stryd van 14-14 teen Engeland hier in die Nelson Mandelabaai-stadion gesê.

“Ons is ver agter die ander lande en sal vinnig moet inhaal. Dit kan slegs deur harde werk gedoen word. Daar moet ’n ingesteldheid van hoë prestasie wees en ons is nog nie daar nie.”

Daar is gebreke wat soos ’n goue draad deur die reeks teen Engeland loop.

Die Bokke het nie een keer vir ’n volle 80 minute gespeel nie, daar is onnodige drieë afgestaan en Morné Steyn se skopwerk was by drie geleenthede swak.

Francois Hougaard lyk ook huiwerig agter die Bok-oond en die eina-vertonings deur die Bok-skakels steek sleg af by die All Blacks en Wallabies.

“Hougie is altyd gevaarlik wanneer hy met die bal hardloop, maar moet nog leer om in nat toestande te speel. Ek het vir Ruan Pienaar opgestuur om beheer te neem, want hy het by Ulster ervaring opgedoen in sulke toestande en skop baie goed,” het Meyer gesê.

“Ons sal lesse daaruit neem, maar ek het uit die staanspoor gesê dat ons hier is om toetse te wen en nie om te leer nie.

“Daar is nie verskonings nie. Ons het die land in die steek gelaat.”

Meyer meen Engeland het veel beter by die toestande aangepas en die vloei in die Bokke se spel met akkurater spel by die afbreekpunte ontwrig.

“Hulle het altyd geweet dat ons gevaarlik is wanneer ons vinnige bal kry.

“Alle eer dan aan hulle dat ons balbesit vertraag is.”

Die Bok-breier het ook die punt gemaak dat Suid-Afrikaners in die breë die Engelse onderskat het.

“Hulle was eintlik ongelukkig om nie die Sesnasies-reeks te wen nie. Ons het die reeks as die derde beste span in wêreldrugby betree en hulle as die vierde. Engeland is nou al vir agt wedstryde saam en ons vir drie.

“Ons het ’n deurwinterde agterlyn, maar ons voorspelers moet nog ervaring opdoen.”

Die slotte Eben Etzebeth en Juandré Kruger, asook die oopkantflank, Marcell Coetzee, het die wedstryd begin met net twee toetse elk agter die blad. Jacques Potgieter het boonop sy debuut as steelkantflank gemaak.

Daar is ook positiewe dinge wat Meyer uit die reeks kon neem.

Hy het ’n wedstrydplan gevestig, terwyl Coetzee en Etzebeth veral baie belofte toon. Die voorry-kombinasie van Tendai Mtawarira en die Du Plessis-broers Jannie en Bismarck staan sterk in die skrums.

Meyer het ook genoeg van Jean de Villiers gesien om hom vir die res van die jaar as kaptein aan te stel,

“Ons het drie weke saam gehad en die wedstrydplan is in plek. Die kultuur is ook gevestig en dis hopelik een van uitnemendheid,” het Meyer gesê.

“Daar is etlike spelers wat hul eerste proesel toetsrugby gekry het en sulke ervaring kan nie gekoop word nie.”

.

Die Burger
«Terug