KAAPSTAD. – Die Stormers se afrigter, Allister Coetzee, het die wysheid bevraagteken van die besluit om Steven Kitshoff se verpligtinge vir Suid-Afrika se o.20-span bo Super-rugby te verhef.
Kitshoff het hom gister by die Jong Bokkies se voorbereidingskamp in Stellenbosch aangesluit en sal in die groep wees vir Maandag se eerste wedstryd van die Junior Wêreldtoernooi – teen Ierland.
Coetzee is egter nou ’n bulletjie van ’n loskopstut kwyt vir Saterdag se Super-wedstryd teen die Bulls op Loftus Versfeld. En hy glo nie die speler se belang word in die proses gedien nie.
“Met respek aan die Internasionale Rugbyraad se o.20-reeks, is die vraag of Kitsie nie eerder ’n geleentheid mis om teen Springbokke te speel nie,” het Coetzee gesê.
“Werner Kruger (Bulls se vaskopstut) kan moontlik vir die Bokke as vaskop speel. Dit sou ’n goeie geleentheid gewees het om hom teen ’n speler van daardie gehalte te kan meet.
“Ons is ’n gehalte-speler kwyt. Dis lekker om te sien wanneer jong ouens hulle teen die bestes bewys. Saterdag se stryd is vir ons en die Bulls baie belangrik. Daar is egter niks wat ons kan doen nie. Die reël sê hy moet vir die o.20-span speel. Ons aanvaar dit so.”
Kitshoff self is nie teleurgesteld oor sy betrokkenheid by die Bokkies nie. “Dit was nog altyd ’n droom vir my om in die twee jaar ná skool vir die Jong Bokkies te speel. Ek het daarom altyd hard bly werk en dit is vir my ’n voorreg om hier te wees.”
Die Westelike Provinsie is verlede week ingelig dat die SA Rugbyunie (Saru) hom sal beroep op die reël dat nasionale spanne voorkeur geniet.
Coetzee het egter gesê dat hy en die SA o.20-afrigter, Dawie Theron, besluit het om Kitshoff só te bestuur dat hy teen die Bulls kan speel. “Die plan was dat hy vir ons sou begin en dat hy bestuur sou word op ’n manier wat vir albei partye voordelig sou wees. Hy sou die o.20-span se stryd teen Ierland misgeloop het, maar die res van die toernooi vir hulle gespeel het.
“As die Jong Bokkies die eindstryd gehaal het, sou ons hom daarna ’n blaaskans gegee het omdat hy so baie binne ’n kort tydperk sou gespeel het.”
Die o.20-toernooi begin Maandag en duur tot 22 Junie.
Theron wou hom gister nie uitlaat oor wat glo vroeër tussen hom en Coetzee besluit is nie. “Ek is hier om ’n span voor te berei om die Junior Wêreldtoernooi op eie bodem te wen met die spelers wat Saru beskikbaar gestel het. Die Super-rugbyspelers oefen nou saam met ons. Steven Kitshoff, Ruan Botha, Pieter-Steph du Toit en Paul Jordaan is almal hier.”
Die Burger