DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Theron ontbied nóg ’n ‘Goosen’

Deur: Marco Botha 2012-05-23 00:00

KAAPSTAD. – Die Vrystaatse losskakel Johan Goosen is die soort rugbyspeler wat ’n mens net elke 10 jaar aantref. Of hoe?

Die Suid-Afrikaanse o.20-breier, Dawie Theron, het dit straks reggekry om twee van die begaafste losskakels in járe in ’n enkele jaar in sy strukture te betrek – die mees onlangse generaal is Handré Pollard, ’n 18-jarige losskakel van die Hoërskool Paarl Gimnasium.

Die Junior Wêreldtoernooi begin op 4 Junie hier – en Theron het onlangs ’n reuse-terugslag beleef, toe Goosen sy skouer in ’n Super-wedstryd tussen die Cheetahs en Highlanders beseer het.

Die nr. 10-trui sal voorts Tony Jantjies s’n word. Maar toe Theron die bloedjong Pollard dié naweek uit die bloute na sy na­sionale oefenkamp ontbied het, het hy moontlik Goosen se spieël­beeld betrek.

Só dink die voormalige Springbok-losskakel Louis Koen, wat tans Paarl Gim se sporthoof is.“Handré is werklik die volmaakte losskakel,” het Koen aan Sport24 gesê.

“Hy kan ongetwyfeld as ’n skoolkind al o.20-rugby op internasionale vlak speel. Hy is emosioneel, psigies en fisiek daarvoor opgewasse.”

Pollard is 1.89 m lank en weeg 95 kg. Koen meen hy kan net so ’n goeie binnesenter wees, wat hom in moderne rugby ’n nóg groter aanwins maak.

“Losskakel en binnesenter het die afgelope 5 tot 10 jaar baie na mekaar toe beweeg. ’n Afrigter soek ’n 10 en 12 wat dieselfde goed kan doen.

“Verbeel jou nou ’n dag waarop jy vir Johan Goosen en Handré langs mekaar het. Of Goosen en Frans Steyn. Of Handré en Frans Steyn.

“Dit sal wees soos om twee Dan Carters langs mekaar te hê. Jy beskik dan oor twee keer die voorgevoel, twee keer die vindingrykheid, twee keer die vaardighede en twee keer die psigiese gehardheid. Jy sit met twee keer die volle pakket.”

Volgens Koen doen Theron “baanbrekerswerk” deur Pollard te betrek. “Elton Flatley en Ben Tune het op 18-jarige ouderdom vir Australië begin speel.”

- Sport24
verneem Pollard is in 2013 op pad Blou Bulle toe.

  Die Burger
«Terug