BLOEMFONTEIN. – Suid-Gauteng en Noordelikes het met gister se voorlaaste groepwedstryde reeds hul plekke in die halfeindstryd van die provinsiale vroue-hokkietoernooi in Randburg bespreek.
Dié twee spanne, met ’n voltal van 12 punte elk, is vandag slaags om die wenner van Groep B te bepaal.
In Groep A het vier spanne nog ’n kans om die halfeindstryd te haal.
Die nasionale o.21’s is ondanks ’n agtereenvolgende gelykopuitslag (1-1) gister teen Amathole met 8 punte steeds die voorloper dié groep.
Die Westelike Provinsie (6) is ook nog onoorwonne, maar is met gister se gelykopuitslag teen Noordwes deur die KwaZulu-Natal Raiders in die pylvak verbygesteek.
Die Raiders (7) het met hul sege van 5-1 oor Wits die tweede plek ingeneem en hul laaste groepwedstryd vandag met die WP kan as ’n “kwarteindstryd” beskou word.
Die kampioen het gister met 1-1 teen Noordwes die derde keer in vier wedstryde gelykop geëindig.
Noordwes het sy Olimpiese doelskieter Sulette Damons in die eerste helfte verloor.
Die twee snye bo haar oogbank – die toedoen van ’n bal wat gedeflekteer is - moes met 13 steke geheg word en daar sal eers vanoggend oor haar deelname teen Amathole besluit word. Noordwes (5) het ’n geringe kans om die halfeindstryd te haal.
- Suid-Gauteng het nou 34 doele in vier wedstryde aangeteken nadat hy Oostelike Provinsie gister met 6-1 geklop het.
Die wenspan het kort na die eerste kwartier reeds met 4-0 voorgeloop.
Noordelikes was nie so vinnig uit die blokke nie. Janie Porteous se doel na bykans ’n uur het hulle met 1-0 teen die Mynahs ook onoorwonne gehou.
Vrystaat het gister sy tweede agtervolgende sege behaal toe hy die vuisvoos KZN Binneland, wat Woensdag met 15 doele teen die gasheer deurgeloop het, met 6-0 afgeransel het.