PRETORIA. – “Ek is só moeg, ek kan my lag nie hou nie,” het regter Eben Jordaan gister hier in die Noord-Gautengse hooggeregshof tydens sy Boeremag-uitspraak gesê.
Vandag is die 11de dag van die uitspraak in dié verhoor, wat op 19 Mei reeds nege jaar geduur het.
Jordaan sou gistermiddag die getuienis oor Tom Vorster, die 11de beskuldigde, opsom.
Vorster was egter nie gister in die hof nie.
Adv. Louisa van der Walt, namens Vorster, het versoek dat die uitspraak tot vandag uitgestel word omdat dit onvanpas sal wees om in Vorster se afwesigheid daarmee voort te gaan.
Sy het gesê Vorster het blykbaar Woensdagaand pille gedrink wat nie met hom geakkordeer het nie en sy maag is daarom ongesteld.
Sy het gesê Vorster sal beslis vandag beter wees en hy is daarop geregtig om die uitspraak te hoor.
Adv. Paul Fick SC, namens die staat, het egter gesê dit sal Vorster geensins benadeel as die uitspraak in sy afwesigheid gelewer word nie, want niks gaan verander totdat Vorster dit self gelees het nie.
Jordaan het hieroor gesê hy sit tussen twee vure.
“Aan die een kant is ek só moeg, ek kan my lag nie hou nie.”
Aan die ander kant wil hy die uitspraak afhandel, het hy gesê.
Jordaan het toe gesê hy weet nie of daar “soveel kinders van die bed gaan afval” as hy die uitspraak tot vanoggend oorhou nie.
Die hof is toe omstreeks 12:00 tot vandag verdaag.
Die Burger