KAAPSTAD. – Die ANC sê dis nie nodig om met adj.pres. Kgalema Motlanthe te vergader oor sy toekoms nie.
Motlanthe, wat hom nie herkiesbaar gestel het vir die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) nie, is verlede week aangewys as hoof van die ANC se nuwe politieke opleidingskool. Dit is lank reeds bekend dat hy ’n passie het om met die jeug te werk en die nuwe loopbaanrigting kan ’n aanduiding wees van waar hy hom binnekort kan bevind.
Terwyl die ANC gesê het Motlanthe sal nie uit die regering verwyder word nie, het die party skynbaar nog nie vir Motlanthe gevra om aan te bly nie.
“Daar’s geen rede om hom te nader (en te vra oor sy toekomsplanne) nie. Hy is die adjunk-president (van die land),” het Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, aan Die Burger gesê.
“Nee. Hoekom moet ons met hom vergader?” het Mantashe gesê toe hy daaroor gepols is. “Hy het nie gesê hy wil bedank nie. Hoekom moet ons hom smeek om nie te loop nie as hy nog niks gesê het nie?”
’n Bron van Die Burger wat in die binnekring staan, het gesê indien Zuma nie vir Motlanthe gaan afdank nie, sal Motlanthe waarskynlik reeds in Januarie self bedank.
“Motlanthe het gestaan vir ’n beginsel, dit is waarom hy gekies het om tog teen die president te staan. Hy het gestaan vir verandering omrede hy geglo het die party moet in sekere aspekte verander. Die afgevaardigdes het dit egter duidelik gemaak dat hulle nie so voel nie. Daarom maak dit nie sin dat hy aanbly nie. Sy siening verskil te veel van hoe die meerderheid in die party voel,” het die bron gesê.
Motlanthe is vervang deur die sakeman en swaargewig-ANC-leier, Cyril Ramaphosa.
Die Burger se bron het gesê dit sal interessant wees om te sien of Ramaphosa toegelaat sal word om onafhanklik te funksioneer.
Die Burger