KAAPSTAD. – ’n Mens moet jou nie teen statistieke blind staar nie.
Dít was gister die woorde van Thys Stolz, eerstespan-rugbyafrigter van Paul Roos Gimnasium, voor sy span se interskole-kragmeting vandag teen Grey Kollege in Bloemfontein.
Paul Roos het tot dusver hierdie seisoen gemengde welslae behaal en sal vandag om 15:10 op sy allerbeste wil wees.
In 28 interskole-kragmetings was Grey al 21 keer aan die wenkant.
“Ek het ’n volsterkte span uit die beskikbare spelers gekies,” het Stoltz gesê.
“Ons het ’n paar langtermyn-beserings by sleutelspelers gehad. Ons het dié week meer op die geestelike aspek van die wedstryd gefokus met korter oefeninge. Ons het meer aandag aan detail gegee.”
En hoewel Stoltz stilweg optimisties is oor sy span se kanse teen Grey, verkeer hy nie onder ’n wanindruk wat die grootsheid van sy span se taak betref nie.
“Grey is beslis die beter span. Jy sal nooit ’n Grey-span teëkom wat nié goed is nie, maar jy moenie jou teen statistieke blind staar nie. Ek het baie vertroue in my span.”
Willie Janse van Rensburg, eerstespan-afrigter van die Landbouskool Oakdale op Riversdal, het gesê sy span gaan gebuk onder beserings.
Tog dink hy steeds die interskole-stryd teen Boland Landbou gaan baie gelykop wees.
“Albei my eerstekeuse-slotte en my vaskopstut is beseer. Ons aanloop tot die interskole was egter goed en ek dink ons is reg,” het hy gesê.
Oloff Bergh, eerstespan-afrigter van Boland Landbou, stuur vandag sy beste moontlike span teen Oakdale op die veld.
“Ons is positief. Dis die 25ste interskole tussen die twee landbouskole en ons vier ook vanjaar ons 50ste bestaansjaar. Dis dus lekker om vanjaar die interskole tuis te speel,” het Bergh gesê.
Frikkie Welsh, voormalige Blou Bul- en WP-senter en eerstespan-afrigter van D.F. Malan, het gesê sy span is vroeg in die seisoen reeds deur beserings ontwrig en het verlede week ook sy agtsteman met ’n kniebesering verloor.
“Ons het dié week daarop gefokus om die spelers skerp te kry en geestelik voor te berei. Ons het nie te hard geoefen nie.
“Bellville speel vanjaar goeie rugby. Om weg te speel het ’n groot impak op skolevlak, maar rugby is ’n snaakse sport en enigiets kan op die dag gebeur,” het Welsh gesê.
Die Burger