DieBurger

Agentskap staan bont oor banknoot

Deur: Maygene de Wee 2012-08-18 07:00

KAAPSTAD. – ’n Eiendomsagentskap wat oënskynlik ’n R100-banknoot op ’n reklame-pamflet gebruik het, het gister gesê hy was nie bewus daarvan dat toestemming hiervoor by die Reserwebank verkry moet word nie.

Philip Crous, eienaar van ­Realtors International in Durbanville, het in ’n telefoniese gesprek gesê die ontwerp op die pamflet “is nie presies dieselfde” as dié van ’n R100-banknoot nie. Op die vraag of hy daarvan bewus is dat toestemming hiervoor by die Reserwebank verkry moet word, het Crous ontkennend geantwoord.

Volgens hom is die ontwerp deur Magic Graphics, ’n grafiese onderneming, gedoen. “Ek neem aan dat hulle toestemming gekry het.”

Ene Debbie (sy wou nie haar van gee nie) van Magic Graphics het geskok op navrae ge­reageer. Ook sy was nie bewus daarvan dat die Reserwebank se toestemming benodig word nie.

“Ek het nie geweet dis verkeerd om ’n banknoot te gebruik nie en sou dit ook nie gedoen het as ek geweet het dis verkeerd nie.”

Nosipho Theyise van die Reserwebank se kommunikasie-afdeling het teen druktyd nie op navrae gereageer nie. Sy het wel die beleidsdokument rondom die duplisering van banknote in ’n e-posboodskap aangestuur.

Die beleid bepaal onder meer indien ’n banknoot gedupliseer word, moet dit in swart-en-wit wees of die oorspronklike kleur van die banknoot behou.

As dit nie in elektroniese formaat is nie, moet dit minstens 30% groter as die banknoot wees as dit vergroot word. Indien dit verklein word, moet dit met omtrent 30% en in verhouding verklein word.

Die Burger
«Terug