DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Honde, 50 katte leef "afgryslik"

2012-08-23 13:53

DESPATCH.: Beamptes van die polisie, die Dierebeskermingsvereniging en die gesondheidsdepartement het gister op ’n huis in Despatch toegesak waar agt honde en sowat vyftig katte ’n gesondheidsrisiko vir die buurt geword het.

“Ek het nooit gedink ek sal so iets beleef nie. Die toestande waarin die mense leef is afgryslik. Dit is asof hulle soos diere leef en die honde en katte baas is van die huis,” het lt.kol. Vivian Tembani, Despatch se stasiebevelvoerder, gister gesê.

’n Byna stikkende reuk hang in die lug rondom dié huis in die Retief-woonbuurt waar die gesin Williams bly. Baie van die huis se ruite is gebreek en word met planke bedek terwyl die garagedeur met ’n houtbalk gestut word om dit toe te hou. Die tuin is onnet en die swembad in die agterplaas is vol rommel.

“Ek was al vantevore by dié huis, maar die eienaars wou my nie binne toelaat nie. Vandag (gister) het ek ’n lasbrief gekry wat toelaat dat ons die diere verwyder,” het Koos Croucamp, veearts van die DBV op Uitenhage, gesê. Croucamp het gesê die diere sal ondersoek word om te bepaal of die eienaars van dieremishandeling aangekla moet word. “Op die oog af lyk die diere in ’n goeie toestand.”

Binne die huis het beamptes gesukkel om asem te skep. Verskeie vertrekke binne die huis bevat geen meubels nie, en die houtvloere is bedek met diereontlasting en urine-vlekke terwyl talle vlieë rondvlieg.

Die DBV het ses van die agt honde, en 25 katte, na hul perseel in Uitenhage geneem. Vir die eienaars, wat geen kommentaar wou lewer nie, was dit ’n hartseer afskeid.

“Die mense is geregtig op twee honde en twee katte op hul erf. Daarom vat ons nie al die honde nie, en ons sal môre (vandag) terugkom om die res van die katte te vat,” het Croucamp gesê.

’n Verteenwoordiger van die gesondheidsdepartement was ook teenwoordig en die polisie het toegesien dat die diere sonder slag of stoot verwyder word.

Van die bure het met goedkeuring toegekyk hoe die diere verwyder word.

“Ons waardeer al die betrokkenes se optrede. Ek het regtig oor my gesin se gesondheid bekommerd geraak. Geen mense kan mos in sulke omstandighede leef nie,” het Alden Naudé, buurman, gesê.

Naudé woon al 15 jaar daar en het gesê dit was nie altyd so nie. Dit het oor die afgelope paar jaar geleidelik erger geword tot die punt waar dit ’n verleentheid was om gaste te nooi.

“Maar die polisie het my verseker hulle sal die situasie saam met al die betrokke organisasies monitor om te keer dat dit weer gebeur.”

 
«Terug