DieBurger WEBWERWE/DIENSTE >

Almal sal sê kry oor skole

Deur: Marelize Potgieter 2012-07-18 05:00

KAAPSTAD. – Die 27 skole wat moontlik deur die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) gesluit kan word, sal almal aan die volgende fase van die proses onderwerp word.

“Ek het die besluit nie ligtelik geneem nie,” het Donald Grant, Wes-Kaapse minister van onderwys, gister op ’n nuuskonferensie gesê. “Ek het eerstens die welstand van kinders en gehalte-onderrig in ag geneem.”

Enige lid van die publiek kan in die komende weke aan ’n openbare deelnameproses deelneem wat in die vorm van ’n vergadering sal plaasvind.

Grant het verduidelik hy het sy besluit geneem deur elke skool in een van drie kategorieë te plaas. Die eerste kategorie was vir skole wat geen teenstand gebied het oor die moontlikheid dat die skool kan sluit nie. Die tweede kategorie was waar hy eers meer inligting oor die skool aangevra het, en die laaste was vir skole wat oop sou bly.

“Dit was nie asof ek al die skole net in die ‘sluit’-kategorie gaan plaas het nie,” het Grant gesê. “Ek het my brein gebruik en daaroor gedink.”

Grant het gesê hoewel die sluiting van skole heelwat geld sal spaar, dryf dit nie sy besluit nie.

Hy neem verskeie faktore in ag, soos vervoerkontrakte wat geraak sal word, leerders wat nuwe uniforms sal moet kry, vakkeuses en skoolgeld wat dalk skielik meer kan word.

“Ek is bewus van die belang wat elkeen van die skole in hul onderskeie gemeenskappe het en ek respekteer dit.”

Lede van die publiek word aangemoedig om die vergaderings by te woon en mondelingse of geskrewe voorleggings te maak. Elke voorlegging sal genotuleer word deur amptenare wat die vergadering bywoon. Dit sal deel vorm van die verslag wat aan Grant voorgelê word wanneer hy ’n besluit oor elke skool neem.

Mense kan voorleggings ook by die WKOD se kantore indien of e-pos stuur na edumin.edumin@westerncape. gov.za. Die openbare deelnameproses sal tot einde Augustus strek.

Die finale besluit oor die toekoms van skole sal teen die einde van die derde kwartaal (einde September) geneem word.


Die Burger
«Terug