DieBurger

Armscor-voorsitter wíl bly

Deur: Jaques Dommisse 2012-07-23 05:21
KAAPSTAD. – ’n Babelse verwarring heers oor die voorsitterskap van Armscor nadat dit bekend geword het dat luitenant-generaal Moreti “Mojo” Motau op 11 Junie vanjaar ’n afdankingsbrief van die voormalige minister van verdediging, Lindiwe Sisulu, gekry het, maar nie gehoor gee aan die afdankingsbrief nie.

 Media24 se ondersoekspan het ’n afskrif van die afdankingsbrief in sy besit, asook twee ander aanstellingsbriewe waarin Sisulu vir Refiloe Mokoena, voormalige ondervoorsitter, as voorsitter en Elias Borole as die nuwe ondervoorsitter aangestel het.

Ingeligte bronne meen Motau, prominente MK-stryder en voormalige hoof van militêre intelligensie, klou soos ’n neet vas aan die voorsitterskap.

Motua self het Vrydagmiddag aan Media24 se ondersoekspan bevestig dat hy steeds die voorsitter is. Oor die brief wat Sisulu aan hom gestuur het waarin sy hom van sy “afdanking” in kennis stel, is hy vaag. “Watter brief; watter minister,” het hy klaarblyklik genoem in verwysing na Sisulu wat op 12 Junie in ’n kabinetskommeling deur president Jacob Zuma as die nuwe minister van die staatsdiens aangestel is.

Motau staan daarby dat hy nie afgedank is nie en steeds die voorsitter is. Op 12 Junie is Sisulu as minister van verdediging en militêre veterane deur Nosiviwe Noluthando Mapisa-Nqakula opgevolg. Die afdankingsbrief van Sisulu aan Motau en die aanstellingsbriewe aan Mokoena en Borole is gedateer 11 Junie 2012.

Die ministerie van verdediging het nie kommentaar gelewer op die briewe wat Sisulu uitgestuur het die dag voor sy in ’n nuwe pos aangestel is nie. Geen vrae is beantwoord nie. Intussen het Mokoena aan Media24 se ondersoekspan bevestig dat sy as voorsitter van Armscor aangestel is.

 Armscor self wou min inligting bekend maak oor die voorsitterskap en die briewe wat die departement uitgestuur en deur Sisulu onderteken is. Daphney Chuma, ’n woordvoerder van Armscor, het gesê: “Die aanstelling van direkteure en die posisie van die voorsitter berus regstreeks by die aandeelhouer (departement van verdediging).

 “Daarom is ons nie in staat om op jou navraag te reageer nie,” het sy gesê. Rakende die voortslepende arbeidskwessies by Armscor, met verskeie senior personeel wat oor die laaste paar jare geskors of afgedank is, wat in sommige gevalle tot voortslepende regsaksie gelei het, het Chuma ook min gesê. “Die instel van dissiplinêre prosesse rakende Armscor se personeel is ’n interne saak wat volgens die groep se beleid gehanteer sal word,” het sy gesê.

Dit is algemeen bekend dat verskeie top-werknemers die laaste paar jaar deur Armscor afgedank of geskors is. Meer as 60 senior personeel het ook ’n protesskrif teen die hoofbestuur opgestel. Media24 se ondersoekspan het pas verneem dat nog twee senior bestuurders, Pierre Meiring en Kgathatso Tlhakudi, deur die waarnemende uitvoerende hoof, Sipho Mkwanazi, hangende ’n dissiplinêre ondersoek geskors is.

Twee ander senior beamptes - Dawie Viljoen en Braam van der Spuy – is ook ’n paar maande gelede geskors, maar die dissiplinêre verhore word telkens uitgestel. Al vier geskorstes word deur die vakbonde Solidariteit of Nehawu ondersteun. Mkwanazi was verlede jaar in die nuus toe dit in hofstukke bekend geword het dat hy onregmatig by tenderprosedures ingemeng het.
«Terug